Lukas 24:13-35 – Derde Sondag van Paastyd – 30 April 2017

Vandag se fokusteks vertel hoedat Jesus na sy opstanding aan 2 mense verskyn het wat Hom aanvanklik nie herken het nie. Jesus se opstanding uit die dood is baie belangrik vir gelowiges. En die Bybel beskrywe ‘n paar geleenthede waar Jesus hom na sy dood aan mense openbaar het. Ons sluit ‘n tabel in waarin kinders kan kyk of hulle van die name in die tabel kan herken.  Die preekriglyn begin met die verhaal van iemand wat met ‘n kollega gaan gholf speel het. Soos baie amateurs het hulle sukkel-sukkel van een putjie na die ander een gevorder. ‘n Speler het hulle ingehaal en gevra of hy kan verbygaan. Hulle was nie haastig nie en daar was nie baie mense nie. Die man was professioneel en het meer gholfstokke gehad as wat hulle nog ooit in ‘n gholfsak gesien het. Sy bofhou was egter ‘n tragedie. Hy het dit 90 grade gesny en die bal het ‘n boom getref.  Toe merk die man op: “Julle moes gister hier gewees het.”  Mens wil natuurlik uitbars van die lag. So ‘n vernederende mislukking van iemand wat jou op die gholfbaan wil verbysteek, gaan maar sleg af. Waarskynlik is dit die woorde van baie mense – ook van die Emmausgangers. Daar was ‘n tyd toe dit beter gegaan het! Hoe kom die deurbraak vir hulle? Die opstanding het hierdie verskil gemaak.

Johannes 20:19-31 – Tweede Sondag van Paastyd – 23 April 2017

Onthou, dis nie altyd nodig om ‘n “lessie” uit ‘n teks te haal nie. Kinders moet gewoon die Bybel leer ken! ‘n Paar lesers wat vandag se teks as verskillende karakters lees, kan goed werk.  Of gebruik die voorstel van Carolyn Brown dat jy vandag vraag-Sondag maak.  Nooi mense om vrae te vra – verbaal of op papiertjies.  Lees die vrae.  Brei uit deur nog verwante vrae by te voeg.  Vier die vrae.  Moenie vrae antwoord nie – selfs al kan jy.  Beloof eerder om dit in die volgende weke te hanteer.  Die preekriglyn begin daarom ook met ‘n vraag: Hoe is dit moontlik dat ons vandag in die opgestane Here Jesus kan glo? En antwoord wel dié vraag dat Johannes in ons teks vir ons vertel dat daar twee maniere is waarop mense kan glo: eerstens deur Jesus direk en persoonlik te ontmoet, te sien en selfs aan Hom te raak. Dit is die manier waarop Maria, Petrus, Johannes en ook die twyfelende Thomas leer glo het.

Sedertdien is daar miljoene mense wat nie die voorreg het om in die binnekamer saam met pas opgestane Jesus te wees nie, op “daardie Sondagaand”, die aand van die eerste dag waarop Hy opgestaan het, waarvan ons in ons teks lees nie.  Hoe kom mense soos ons dan tot geloof? Johannes skryf in verse 30-31: “Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê” (20:30, 31).  Jesus sluit daarom ons teks af met ‘n saligspreking: Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.(29). Hy praat oor ons. En oor hoe ons tot geloof kom.

Kolossense 3:1-4 – Paasfees – 16 April 2017

’n Skooljuffrou het aan haar klassie gestremde kinders ’n taak gegee vir die volgende dag. Elkeen moes ’n item saambring wat “lewe” simboliseer… Die volgende dag kry elkeen toe ’n geleentheid om sy of haar voorbeeld van lewe te verduidelik. Ellie het by die skool aangekom met ’n pragtige blom wat sy uit haar Ma se tuin gepluk het- “blomme is lewe juffrou!”- roep sy uit.  Nico op sy beurt verduidelik (met ’n foto) hoedat sy dragtige worshondjie binnekort 3 klein hondjies in die lewe gaan bring. Die worshondjie se magie is groot geswel van die klein hondjies wat amper daar is. Die hondjies is vir hom ‘n voorbeeld van lewe.  Stian stap skaam skaam vorentoe en illustreer sy voorbeeld van lewe- ’n dosie vuurhoutjies.  Versigtig wil die juffrou by hom weet hoe die vuurhoutjies dan lewe kan beteken…  Stian skuif die dosie oop dat almal kan sien dis leeg, daar is nie eers een vuurhoutjie in nie. Ewe selfversekerd verduidelik hy: Die vuurhoutjiedosie is leeg juffrou, en so was die graf van Jesus. En dit beteken lewe!  Dit is ook die boodskap van die preekriglyn nadat daar soos gebruiklik eers ‘n kostelike grap vertel word, hierdie keer van ‘n bromponie en ‘n Ferarri.  Die teks nooi ons uit om ons lewe en ons gedagtes op Christus te fokus. Ons word genooi om ons hele lewe hier op aarde te herbedink in terme van die werklikheid van die opgestane Christus, in wie ons lewe het, wat nou aan die regterhand van God sit.

Hebreërs 10:16-25 – Goeie Vrydag – 14 April 2017

Betrek mense van verskillende ouderdomme deur die hele diens, om bv. van die Skriflesings te doen, aan die Nagmaalstafel te sit, die tekens uit te deel, ens. Gebruik hierdie tyd om die verhaal van Jesus se kruisiging te vertel.  Daar is ‘n paar video’s wat jy kan gebruik met ‘n inkleurprent. Die preekriglyn begin met die opskrif wat ‘n mens waarskynlik nie ten tye van Jesus se dood in die koerante van Jerusalem sou sien nie: “Jong held wen talle harte!”  Niemand sou gedink het Hy is ‘n held nie. Behalwe, in Jesus se geval, was die kruis die geboorte van ‘n nuutgemaakte wêreld. Toe Jesus se volgelinge in die lig van wat kort na die kruis gebeur het, op die kruis gebeure terugkyk, het hulle met ‘n skokkende aanspraak gekom. Die aanspraak was, soos teoloog NT Wright skryf, dat Jesus se kruis ‘n revolusie ontketen het. Jesus het die wêreld verander. Teen sononder, op Goeie Vrydag, nadat Jesus sy laaste asem uitgeblaas het, was die wêreld ‘n ander plek. Niks sou weer dieselfde wees nie.

Psalm 31:9-16 – Sesde Sondag in Lydenstyd – Palmsondag – 9 April 2017

Daar is ‘n uitgebreide beskrywing van die gebruik van palmtakke, kruisies van palmblare gevleg wat as boekmerke gebruik kan word, en dan die volgende jaar verbrand word vir die Aswoensdag vieringe. Die preekriglyn begin met die verhaal van die eerste weke van die sendeling David Brainerd onder die Amerikaanse Indiaan-boorlinge.  Hy het  vir drie jaar geen vrug op sy arbeid gesien nie.  Na drie jaar was daar ‘n plotselinge geestelike oplewing onder die Indiane. Agttien maande later het reeds 150 persone besluit om Jesus as Here en Verlosser te volg. Dit was – vir die omstandighede – ‘n besondere hoë getal.  David Brainerd is na vyf jaar op sy sendingveld oorlede, slegs 29 jaar oud.

Sy joernaal is egter wyd in die VSA en in Europa gelees en inspireer onder andere vir William Carey, die vader van die moderne Protestantse sendingbeweging, waaruit miljoene bekerings wêreldwyd gevolg het. Wie kan besluit of iemand se lewe en se lewenstaak die moeite werd is, of vrug sal hê? Veral te midde van groot lyding? Wie kan dink of droom dat daar uit intense lyding, swaarkry en mismoedigheid enige vrug kan kom?  Tog is dit wat God doen. God het dit deur die lewe van David Brainerd gedoen. Maar God het dit veral in die onmeetlike lyding en sterwe van Jesus Christus gedoen. Sy wonde, sy sterwe en gebroke liggaam het dié bron van lewe geword.  Psalm 31 pas op Jesus se lippe.  Toe Jesus tydens sy verlatenheid en lyding gebid het, het Hy uit dieselfde psalms gebid waaruit ons bid. Ook vir Jesus was die psalms ‘n bron van troos en het dit aan Hom woorde gegee in sy situasie. Psalm 31 vertolk die lyding van Jesus en die vertroue wat Hy in God gehad het om Hom deur die  dood te dra en daaruit te red.  Daarom lees die kerk deur die eeue Jesus se verhaal so geredelik in Psalm 31 in. Veral die klag in nood en die vertroue op God in lyding pas volkome by Jesus se lewe.

NOVweb-banners-8

Johannes 11:1-45 – Vyfde Sondag in Lydenstyd – 2 April 2017

Onthou, jy hoef nie altyd ‘n morele “lessie” uit die teks te haal nie. Veral met die verhalende tekste is dit dikwels goed om eenvoudig die verhaal te vertel.  So kan vanoggend se skriflesing bv deur verskillende lesers gedoen word.  Jy kan dit ook lees met mooi prente uit ‘n kinderbybel waarvan ons ‘n voorbeeld insluit.  Of gebruik een van die verskeie pragtige videos van hierdie skrifgedeelte.  Woelige kinders sal daarvan hou om mekaar in toiletpapier toe te draai soos mummies.  Die preekriglyn plaas die verhaal van Jesus se opwekking van Lasarus binne die groter raamwerk van die sewe wonderwerke van Jesus in die evangelie van Johannes.  Johannes wil daardeur sy lesers oortuig dat Jesus werklik die Messias en die Seun van God is en dat Jesus vir mense sorg.  Hy gee daarmee vir ons ‘n besondere kykie in wese van God. Johannes kyk hier nie vanuit die hoogtepunte van die lewe na God nie, maar vanuit die laagtepunte, vanuit die hartseer van ‘n Marta en Maria oor hulle broer Lasarus se dood.  En sê, God gee om. Dit is ‘n geweldige troos, veral ook omdat Jesus sê dat ‘n verhouding met Hom is die opstanding en is die lewe.

AltydDaarLeier

Johannes 9:1-41 – Vierde Sondag in Lydenstyd – 26 Maart 2017

Vir Familietyd kan jy die oulike kinderboodskap van sermons4kids.com gebruik oor modderkoekies bak. Of sluit aan by die boodskap van sien – en nie sien nie – met ‘n paar optiese illusies vir die kinders. Verduidelik hoe ons verskillende goed raaksien in dieselfde prentjie.  Jesus help ons om ander mense in nood raak te sien – en hulle te help.  Die preekriglyn sluit aan by neuroloë soos Oliver Sacks wat uitwys dat hier eintlik meer as een wonderwerk gebeur. Jesus genees aan die een kant hierdie man se fisieke vermoë om deur sy oë beelde na sy brein te gelei. Tweedens gee Jesus vir hom die vermoë om met sy brein sin te maak van sy waarneming.  Dit help om om te verstaan dat sien kompleks is. Fisiese sien is volgens Jesus ook nie die enigste soort sien nie. Daar is ook nog jou geestelike gesigsvermoë: om die waarheid te kan sien en eien.  Jesus se gratis lig van genade en vergifnis is juis vir blinde mense – nie vir mense wat dink hulle kan sien nie. Dit is vir gevalle mense, nie mense wat dink dat hulle staan nie. Ons is geroep om die lig van die heerlikheid van God in die lydende Jesus te sien, en dit vryelik met mekaar te deel. Ons is geroep om oop te wees vir ander, en Jesus se genesing, lig en hoop met hulle te deel.

Sewe

Johannes 4:5-42 – Derde Sondag in Lydenstyd – 19 Maart 2017

Net soos wat Jesus ‘n kans waag om uit te reik na die Samaritaanse vrou – ‘n buitstander – so waag die Rainbow Fish dit om uit te reik na ‘n gestreepte vis, nadat almal die gestreepte vis geïgnoreer het en daar ‘n haai verbykom.   Ons gee vir jou ‘n video voorlesing.  Verduidelik eers hoe ander die Samaritaanse vrou gesien het:  as ‘n buitestander, verwerp, ongewild.  Vertel dan die storie.  Die preekriglyn begin met die ervaring van droogte die afgelope tyd in Suider-Afrika. Die noodsaaklikheid van water as lewensbron en die kosbaarheid daarvan het onder die vergrootglas gekom.

Ons verstaan vandag nog net so goed soos die mense van Jesus se tyd dat water lewe gee, en dat ‘n gebrek daaraan wat lewe ontneem.  Dit dek die tafel vir ‘n gesprek oor Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou aan die hand van die beeld van water.  Daardeur kan Jesus met haar oor haar diep behoefte aan God gesels.  Die verhaal neem ons oor die grense wat ons so maklik tussen mense trek na lewegewende ontmoetings.

Dec-web-banners 13

Johannes 3:1-17 – Tweede Sondag in Lydenstyd – 12 Maart 2017

Verduidelik die drie persone van die Drie-eenheid soos dit in Die Nuwe Testament vir Kinders vertel word. Jy kan verskillende name wat mense mag hê, gebruik, bv. ’n kind se ouma mag vir hom/haar oumie wees; die oupa noem haar dalk Poplap en vir haar dogter is sy Moemsie. Dieselfde persoon met verskillende name … God drie-enig as Vader, Seun en Gees.  Die preekriglyn val direk weg met die verhaal van Nikodemus en lê die teks uit aan die hand van die gesprek wat hy met Jesus gehad het.  ‘n Belangrike klem word gelê op die feit dat wedergeboorte iets is wat van bo af gebeur en per definisie nie iets is wat ‘n mens kan laat gebeur nie.  Dié teks is eintlik soos Johannes se geboorteverhaal.  Net, dit fokus op gelowiges wat van bo af gebore word.  Daardeur word die boodskap onderstreep dat geloof nie ‘n werk van die mens is nie, maar ‘n gawe van God.

Dec-web-banners 12

Matteus 4:1-11 – Eerste Sondag in Lydenstyd – 5 Maart 2017

Carolyn Brown gee ‘n klomp uitstekende idees hoe om hierdie teks saam met kinders te ontsluit. Julle kan drie lesers gebruik en die teks dramaties lees.  Julle kan die skakel volg na ‘n kunstenaar se interpretasie van die teks wat ‘n mens ‘n dieper insig oor die verloop van die tyd wat Jesus in die woestyn was.  Jy kan ook die verhaal van The Little Mermaid of Pinocchio gebruik. Die preekriglyn begin met die wyse waarop Sylvester Stallone die vermaaklikheidswêreld in 2006 verras het deur met sy bemarking van die laaste Rocky Balboa fliek uitgewy het oor sy geloof in Jesus Christus.  Hy vertel hoe hy geleer het hy kan Jesus Christus meer vertrou as wat hy homself kan vertrou. “Mens het die ekspertise en die leiding van iemand anders nodig. Mens kan jouself nie afrig nie. Dis presies hoe ek oor Jesus, die Christelike geloof en die kerk voel. Jesus is die afrigter, en die kerk is die gimnasium vir die Christelike lewe.”  Dit gee ‘n goeie inleiding om oor Matteus se hantering van Jesus se versoeking in die woestyn te gesels.  Die Gees lei Hom die woestyn in waar die vraag geantwoord word wie Jesus sou vertrou.  God of Homself.  Sy oorwinning gee ons die moed om self onder sy leiding ons eie woestyn ervarings te trotseer in die verwagting dat Hy ons ook die oorwinning sal laat behaal.

novweb-banners-3

1 2 3 14