Markus 1:9-15 – Eerste Sondag in Lydenstyd – 22 Februarie 2015

Gebruik die geleentheid om die kinders by die doopvont te laat staan om die simboliek van die doopwater aan hulle oordra aan die hand van die verhaal van God se verbond met Noag.  Die preekriglyn begin met die hartroerende verhaal van die dood van ds. Werner Groenewald en sy twee kinders, Rode en Jean-Pierre, op 29 November 2014 in Kaboel terwyl hy by hulpverleningsprojekte betrokke was.  Baie mense vra of dit die moeite werd is om jou lewe op die spel te plaas vir die Here. Dit laat mens diep nadink. Wat behels ons verbintenis aan die Here? Wat doen ons as ons Jesus se eerste preek in Markus 1 gehoorsaam? Waarvoor laat mens jou in as jy doen wat Jesus destyds in Galilea vra: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”?  Wat ons troos en motiveer op hierdie pad is dat ons nie alleen is nie. Hy is ons voorloper en begeleier.  Dissipels word nie aan hulself oorgelaat nie, selfs nie al skeur die Taliban se geweld jou uitmekaar nie.  Daarop kan ons in hierdie Lydenstyd staatmaak.

Share