Numeri 21:4-9 – Vierde Sondag in Lydenstyd – 15 Maart 2015

Hierdie is natuurlik weer een van daardie geleenthede waar jy gewoon die Bybelverhaal dramaties kan vertel!  Jy kan ook aansluit by die beginsel van kla vs dankbaarheid. Oulike stories wat jy kan gebruik, is Monsters Eat Whiny Children deur Bruce Eric Kaplan of Alexander and the Terrible, Horrible, No Good, Very Bad Day deur Judith Viorst (skakel na voorskou van onlangse fliek ingesluit).  Jy kan ook “props” maak om die storie te vertel aan die hand van die voorbeelde wat ons gee.  Jy kan ook verskillende padtekens en ander kennisgewings wat in die kinders se leefwêreld voorkom, gebruik, en veral verwys na die mediese teken met die slang om ‘n paal. Die preekriglyn lei die teks in met die verhaal van John Wayne Brown wat lewendige slange tydens sy dramatiese eredienste hanteer het.  Op ‘n dag word hy reg in die middel van sy preek deur een van sy eie ratelslange gepik.

Die gemeente het rondom hom kom staan, terwyl hulle bid. Brown was egter binne minute dood.  Min mense sal seker dink Jesus se woorde in Markus 16:17-18 beteken predikers moet giftige slange hanteer terwyl hulle preek. Dis dwaasheid. Dit laat natuurlik die adrenalien vloei en verskaf goeie drama, maar dit bly dwaas. Net so dwaas was dit van Israel om in die woestyn ongeduldig te word en teen God en Moses uit te vaar.  Die dwaasheid word met giftige slange gestraf wat uiteindelik darem getroef word deur God se voorsiening met die koperslang.  Mense wat in die woestyn na Moses se koperslang opgekyk het, het die lewe ontvang. Ons lees dié verhaal in Lydenstyd om ons te herinner dat dieselfde geld in die NT.  Elkeen wat met geloof opkyk na die Seun van die mens, soos eenmaal na die koperslang, sal die “ewige lewe” ontvang.

Share