Markus 16: 1-8 – Paasfees – 5 April 2015

’n Mens kan die kinders redelik maklik deur die hele diens betrek.  Die inleiding oor vuurhoutjiedosies van vanoggend se preek kan ook perfek werk as familie-oomblik.  Op die vraag van die skooljuffrou bring die kinders in lentetyd iets wat nuwe lewe uitbeeld. Klein Jannie bring ‘n leë vuurhoutjieboksie en verduidelik: “Jesus se graf was leeg, en dit is ‘n teken van nuwe lewe.”  Die leë graf getuig van Christus se opstanding. Dit is die hartklop van die Christelike geloof, ons geloof.

Tog is dit soms of dit vir ons ongelooflik is. Ons Westerse denkwyse maak dit vir ons moeilik om dit werklik te glo, wat nog dit oor te vertel te midde van teorieë oor swaartekrag en die kleinste molekules, wetenskap oor die heelal, die menslike brein.  Tog, tog was daar ‘n leë graf en die opstanding waar en werklik. “Hy is nie hier nie”, sê die jongman. Nie onwerklik en verwyderd nie. Dirkie Smit skryf dat as daar geen opstanding was nie, dan was daar ook geen dissipels nie, geen Nuwe Testament nie, geen kerk nie, geen prediking nie.  Dit is in die sien van die lewende Jesus dat die dissipels weer nuwe lewe en koers gekry het.

Dit is so. Dit is die sien van die opgestane Here, die ontmoeting met die lewende gekruisigde Christus, wat ons lewe ongelooflik omvergooi en verander. Dit het met die dissipels gebeur. Dit het met Paulus gebeur. Dit het met al die ander geloofshelde in die Nuwe Testament en oor die eeue heen gebeur. Elke  Sondag neem ons weer terug na die leë graf en die nuwe lewe wat daar begin het. Op Sondag word die leë vuurhoutjiedosie oopgeskuif, sodat ons die nuwe lewe nuut kan sien.  En ons weet Jesus gaan ons vooruit. Ons sal Hom in die week sien, soos Hy vir ons gesê het.

WBanners_Feb15-3

Share