Esegiël 37:1-14 – Pinksterfees – 24 Mei 2015

Met Familietyd kan jy aansluit by die herdenking van ons geboortedae.  Vandag is immers die geboortedag van die Kerk van Jesus Christus.  Die verhaal van Esegiël 37 kan ook met geluide vertel word, soos Carolyn Brown voorstel.  Die preekriglyn werk met die voorbeeld van die jongman, om ons noem hom Gustav, wat na matriek reguit Londen toe is. Hy wou avontuur beleef, die wêreld sien, en natuurlik graag Britse ponde verdien. Dinge het egter glad nie uitgewerk soos Gustav gehoop het nie. Dit het van sleg na erger met hom gegaan.  Soos sy lewe al hoe meer afdraand begin gaan, het flitse uit sy kinderdae begin terugkom. Hy het grepe uit die Bybel en momente uit preke begin onthou. Skielik het Gustav met God begin worstel.

Op ‘n dag, by die werk, aan die einde van sy kragte, het Gustav uitgeroep: “God, as U daar is, gee vir my ‘n teken! Wys my U is daar! Wys my U gee om!”  Daardie middag na werk, op pad huis toe, herinner hy homself om gou by die supermark te stop vir ‘n liter melk en ‘n rolletjie toiletpapier. Hy vat dié dag ‘n bus. Hy gaan sit heel voor. Daar lê ‘n plastieksakkie op die voorste bank, iets wat iemand daar vergeet het. Toe hy die sakkie oopmaak, is daar ‘n liter melk en ‘n rolletjie toiletpapier in die sakkie.  Gustav se hele wêreld word omgekeer. Wat vir ander na toeval mag lyk, is op daardie oomblik vir hom ‘n vaste en seker teken God bestaan en het Hom lief.  Sê hy: “Vir my was dit in ‘n oogwink ‘n nuwe geboorte. My hele lewe het verander. God is daar! Ek kan Hom vertrou, en kan sy raad volg, ek kan sy beloftes ernstig neem.”  Dié verhaal breek die wonder van Esegiël 37 se belofte op ‘n verstaanbare manier oop.  Dit laat ons die nuwe lewe wat God met Pinkster bring nie net waardeer nie, maar omarm.  Alles is anders as God se Gees nuwe lewe bring.

MenswaardigheidAd

Share