Markus 4:35-41 – Vierde Sondag in Koninkrykstyd – 21 Junie 2015

Fokus vandag in Familietyd gewoon op die dramatiese vertelling van die Bybelverhaal.  Daar is ‘n skakel na ‘n oulike video wat jy kan gebruik, of instruksies vir ‘n paar eie hulpmiddels om te maak. Die preekriglyn val weg met die verhaal van Aberra Wata wat amper in Suid-Etiopië tereggestel is toe hy jeugwerk gedoen het terwyl die kommuniste aan bewind was (1974-1991).  In die tronk het veral een van die wagte genot geput uit dreigemente. Eendag het daar net na middernag ‘n geweldige storm losgebreek. Groot haelstene het geval wat verskeie dakke verwoes het, ook die dak van die kamer waar die spottende wag geslaap het. Dié het totaal verskrik geraak.  Aberra Wata se sel het egter niks oorgekom nie.  Die volgende dag is die onbeskofte wag ook in die sel gegooi, omdat die mense gedink het dat God hierdie verskriklike straf op die dorp en die tronk gestuur het weens die wag se optrede teenoor gelowiges. Die wag het daar tot inkeer gekom en nog heelwat ander mense.

Dit gee ‘n goeie inleiding om te gesels oor die feit dat dienaars van die Here dikwels in doodloopstrate beland, maar dat die Here dan ‘n nuwe pad vir hulle oopbreek. Soos ons in Markus lees met Jesus wat die storm op die see stilmaak.  Die gedeelte is natuurlik veel meer as troos in die storms van die lewe. Dit is veral ‘n oproep tot geloof aan Jesus se dissipels. Dieselfde gebeur ook met ons op die geloofsreis met Jesus. Dit is telkens weer nodig om herinner te word aan geloof en vertroue. Ons is op geen manier outomaties daarvan oortuig dat Jesus se roeping, gehoorsaamheid aan sy leer en vertroue op sy werk die regte weg is om in te slaan nie. Ons moet voortdurend herinner word, en veral wanneer ons misluk of kleingelowig raak, weer en weer hoor dat Jesus die Here is.  Ons teks is egter ook ‘n belofte. Die belofte is dat Jesus altyd deure vir dissipels oopmaak op God se sending. Selfs wanneer God se roeping vir sy kinders in die dood eindig, word die bloed van die martelare die saad van die kerk.

WBanners-jun15-1

Share