2 Samuel 1:1, 17-27 – Vyfde Sondag in Koninkrykstyd – 28 Junie 2015

As jy ‘n reeks oor Dawid gaan doen, stel Carolyn Brown voor dat jy ‘n prent van Dawid gebruik en elke week iets byvoeg soos die storie vorder.  Hierdie week twee trane – een vir Jonatan en een vir Saul.  Jy kan gesels oor vriendskap en fokus op die vriendskap tussen Dawid en Jonatan.  Jy sou ook kon gesels oor die sterk gevoelens wanneer iemand hartseer is.  Dit help kinders om te besef dat sulke gevoelens normaal is.  Daar is ook die pragtige storie van TESS’S TREE deur Jess M. Brallier met illustrasies.  Die preekriglyn begin met die begrafnisdiens van Diana, prinses van Wallis, wat deur meer as twee biljoen mense wêreldwyd gevolg is.  Elton John, ‘n goeie vriend van Diana, het sy hartseer en verlies tydens haar begrafnis uitgestort met die aangepaste woorde van sy lied Candle in the wind waarvan daar ‘n uittreksel geplaas is. 

Elton John se lied het mense woorde en begrip gegee vir die intense emosies wat hulle beleef het. Ons teks is ook so ‘n publieke uitstorting van emosie en rou. Hier gaan dit oor die dood van Saul en sy seun Jonatan op Gilboaberg. Dawid gee opdrag dat sy treurlied aan die mense geleer moet word en wyd gesing moet word. Maar nes Elton John se lied, het dit ook ‘n publieke boodskap oor Dawid se verwagte rol as nuwe koning.  Maar Dawid se treurlied is ‘n uitdrukking van sy waardering vir Saul – al is dit nie ongekwalifiseerd nie – en sy trou en respek teenoor God se volk, waarvan Saul die koning was. Dawid tree met grasie op. Publieke waardering en grasie vir die opponent, selfs die een wat jou onreg aangedoen het, skep ‘n klimaat waarin die samelewing ‘n veiliger, meer liefdevolle plek word.  Daarom is Dawid ‘n voorbeeld van ‘n leier wat die historiese vyandskappe en verdeeldhede van die verlede kon help genees. In sy klaaglied leer ons ‘n toekomstige koning ken wat weet hoe om mense te verenig, te inspireer en te lei.

WBanners-jun15-3

Share