2 Samuel 11:26-12:13a – Tiende Sondag in Koninkrykstyd – 2 Augustus 2015

Lees weer die geredigeerde weergawe van Die Boodskap oor die fokustuks dramaties vir die kinders. Daar is ook ‘n inkleurprent van Koning Dawid en Batseba met die babaseuntjie beskikbaar. Die preekriglyn werk met die verhaal van John McCain, die Republikeinse presidentskandidaat in 2008 wat teen Barack Obama verloor het. McCain is gedurende die Viëtnam-oorlog ernstig beseer en gevange geneem. Hy was tot 1973 ‘n krygsgevangene, en is in hierdie tyd gemartel. Sy oorlogswonde het hom met lewenslange fisieke beperkinge gelaat. McCain sien moed, dapperheid en durf as belangrike elemente van leierskap, trouens van die lewe self. Hy skryf by geleentheid: “Moed en durf is soos ‘n spier. Hoe meer ons die spier van moed oefen, hoe sterker word dit. Ek is soms bekommerd dat ons gemeenskaplike moed swakker en swakker word weens ‘n gebrek aan oefening. Ons vereis nie moed van ons leiers nie, en ons leiers dring weer nie by ons aan om durf aan die dag te lê nie.

Die tekort aan moed is beide ons probleem en ons skuld. Gevolglik het te veel leiers in die publieke en private sektor glad nie die moed om hulle beloftes na te kom nie. Daar is ook te min moed om die wesenlike waardes van leierskap te handhaaf.” Dit gee ‘n goeie inleiding om die verhaal van Natan se moedige aanspreek van koning Dawid, “speaking truth to power.” Natan se optrede is ‘n goeie voorbeeld van die spreek van God se waarheid teenoor diegene in gesagsposisies. Gesag en invloed het maniere om die waarheid te begin verdoesel en draai. Daarom is dit so belangrik om waarheid aan mag te bedien. Ons sien ook dat Batseba moed aan die dag lê om vir lewe, wysheid en vir haar seun, Salomo, te kies. Uiteindelik het ook Dawid die moed om sy skuld te bely en die slagoffer van sy misbruik te versorg. Die toepassing is duidelik: Hoe meer ons die onreg rondom ons raaksien, hoe meer daag ons teks ons uit om God raak te sien, en volgens God se waarheid te bly leef. Die vraag bly dus: Hoeveel moed het ons vandag?

webbanners-Jul2015R-2

Share