Home » Preke 2015 » Kersfees – 25 Desember 2015 – Lukas 2: 1-20

Kersfees – 25 Desember 2015 – Lukas 2: 1-20

Dis Kersdag! Dramatiseer die fokusteks ahv Die Nuwe Testament vir Kinders.  Jy kan kinders kry om die teks op te voer terwyl iemand dit lees. Of gebruik mooi prente uit ‘n kinderbybel.  Of wys die ingeslote video.  Of gebruik die ingeslote inkleurprente.  Of vertel die storie van “J is for Jesus:  The sweetest story ever told” deur Crystal Bowman. Dit is in rym geskryf en ons gee ‘n bruikbare Afrikaanse oorvertelling daarvan.  Daar is ook ‘n woordherkenning wat van die teks gemaak is.  ‘n Mondvol! Hoekom?  Want dit is vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!  Nie dat dit só eenvoudig is nie.  Veral in die lig van oorloë, terreuraanvalle, verkragtings, ontvoerings, kapings, menseroof, xenofobiese aanvalle, plaasmoorde en bendegeweld. Onvrede is ‘n daaglikse realiteit, terwyl vanoggend se teks handel oor vrede op aarde. Mens wil amper uitroep: Vrede . . . vrede terwyl daar geen vrede is nie!   Tog, wanneer ons na die Kersverhaal luister, word ons opnuut met verwondering gevul; ‘n maagd word swanger. ‘n Jong meisie word deur God self gekies om die Seun van God in die wêreld te bring.  Alles gebeur as deel van God se vooruitbeskikking. En in hierdie Christus IS daar vrede beskikbaar.  Die vrede van God se geregtigheid.  En ons word gestuur as draers van dié vrede.  So moenie bang wees nie, moenie vrees nie. Selfs te midde van pyn, hartseer, vertwyfeling, verdrukking en beproewing, moenie angstig rondkyk nie . . . u het ‘n God wat u nooit sal begewe of verlaat nie. Sy naam is Jesus, die Prins van vrede.

e-Kersfees2015

Share