Derde Sondag ná Epifanie – 24 Januarie 2016 – Lukas 4:14-21

Nota: Die teksindeling fokus op Jesus se lering in Nasaret. Volgende Sondag fokus op die mense van Nasaret se reaksie. Lei die uitleg van die teks in met ‘n gesprek met die kinders oor wat hulle wil wees wanneer hulle groot is.  Laat grootmense vertel wat hulle graag wou word – en wat hulle nou is.  Verduidelik dan dat Jesus terugkeer na die dorp waar hy grootgeword het, waar almal wou hoor wat van hom geword het. Lees dan die skrifgedeelte en gesels met hulle oor prioriteite en passies en wat hierdie gedeelte oor Jesus sê.

Die preekriglyn lei met die voorbeeld in van ‘n alkoholis se stryd om rehabilitasie sowel as ‘n seksslaaf van ISIS, Nadia Murad Basee Taha, wat in November 2014 ontsnap het en van haar vryheid kon getuig voor die VN.  Albei het die genade van vryheid uit hulle slawerny ontvang, presies soos die Here Jesus hier in sy tuisdorp Nasaret verkondig.  Dit is die kern van Jesus se bediening.  Jesus bring ‘n nuwe bedeling tot stand waar mens se verlede, en die nood van jou verlede, nie langer jou lewe definieer nie. Vryheid en uitkoms is moontlik.

Share