Sondag van die Verheerliking – Feesdiens – 7 Februarie 2016 – Lukas 9:28-36, (37-43)

Die Engelse woord vir vandag, “transfiguration” is eintlik ‘n baie lekker woord om die kinders in die betekenis van die teks in te lei. Jy kan met hulle gesels oor die kraai wat in ‘n beker verander word in Harry Potter and the Philosopher’s Stone.  Dit is egter radikaal anders as wat hier met Jesus gebeur.  Jesus word ook verander, maar Jesus nie iets anders as wat Hy is nie, Hy word meer wat Hy is. Sy Goddelikheid word meer gemaak. Op dieselfde manier werk God, deur die Gees in ons, om ons ook meer dit te maak wat ons reeds is.  Die preekriglyn begin met die spreuk van die sendeling Hudson Taylor: “Vertrou daarop: God se werk, gedoen op God se manier, sal nooit gebrek lei aan God se voorsiening nie.”  En wys hoe dit prakties geraak het met die stigting van China Inland Mission.  Daar was twee redes waarom daar – ten spyte van baie stryd en mislukking – vrug op die werk was. Die eerste rede was die helder besef dat God self aan die werk is, en dat hulle instrumente in God se hande was. Die tweede rede was ‘n lewe van gebed, die opsoek van God se teenwoordigheid en die rus in gebed by God.  Met dit as agtergrond kan ons die betekenis wat hierdie teks vir ons het, beter verstaan.  Jesus is op die punt om deur die meule te gaan. Sy dissipels ook.  Jesus se antwoord op hierdie beproewing is om gemeenskap met God op te soek deur gebed. Hy betrek ook sy dissipelkring. Gebed word die manier waarop Jesus in hierdie oomblikke ingebed bly in sy identiteit as lydende kneg van die Here, Seun van God.  Gebed word ook die manier waarop die dissipelgemeenskap, via Petrus, Johannes en Jakobus, gedefinieer word as volgelinge van die Seun van God.

Share