Vyfde Sondag in Lydenstyd – 13 Maart 2016 – Jesaja 43:16-21

Met Familietyd kan jy die verhaal vertel van Julia Dray, die dogter van ’n Presbiteriaanse predikant, wat 8 jaar oud was toe sy begin verstaan het dat die heelal regtig baie, baie groot is. “God is so groot dat Hy net so klein kan wees as wat Hy wil wees. Dis hoe Hy dit regkry om binne-in jou hart te kan inpas.”  Daar is ook ‘n praktiese hulpmiddel.  Die preekriglyn lei met die verhaal van die neurobioloog James McGaugh in, een van die voorste kundiges op die gebied van menslike geheue. Hy sê ‘n vrou, wat net as AJ bekendstaan, het ‘n unieke gawe om te kan onthou.  AJ se vermoë om die fynste detail te onthou, is ongelooflik. Sy kan dekades uit haar lewe in haar kop laat afspeel asof dit ‘n fliek is waarna sy kyk. Gee haar enige datum, en sy kan onthou watter dag van die week dit was, gewoonlik hoe die weer daardie dag was, persoonlike detail uit haar lewe, en ook watter nuusgebeure afgespeel het.

Gevra of so ‘n wonderlike geheue ‘n groot gawe is, was AJ nie so seker nie. Sy onthou ook die slegte dinge, soos die einde van ‘n verhouding, in die grootste detail. Dit bly haar by. Dis nie lekker nie.  Miskien moet die vermoë om te kan vergeet ook ‘n gawe genoem word.  Dit is waaroor ons teksgedeelte vir vandag handel.  Israel word opgeroep om te vergeet, omdat die Here iets nuuts gaan doen.  Hulle moenie meer net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.  Hulle moet God se nuwe werklikheid aangryp en daarin begin glo.  Dit leer ons dat daar ‘n gesonder spanning tussen onthou en vergeet moet wees. Ons moet ons verlede onthou, sodat ons dankbaar kan bly vir die verlossing wat die Here vir ons gebring het. Maar ons moet ons verlede op so ‘n manier vergeet dat die skuld en sonde van die verlede sy greep op ons verloor.   Daarom kan ons miskien bly wees ons het nie AJ se fotografiese geheue nie!

webbanners_Feb2016-2

Share