Kolossense 2:6-15, (16-19) – Tiende Sondag in Koninkrykstyd – 24 Julie 2016

Jy kan met Familietyd die verhaal van Noni gebruik wat bang was sy vergeet iets met haar eerste skooldag as inleiding om kinders gerus te stel dat dit nie ingewikkeld is om ‘n Christen te wees nie. Jy kan ook die eenvoudige waarheid van “in Christus wees” illustreer met ‘n potplant se wortels en blare.  Die preekriglyn vertel as inleiding die verhaal van mense wat nie altyd besef hoe groot die moeilikheid is waarin hulle verkeer nie. Hulle herken daarom nie altyd redding wanneer dit opdaag nie, en dink hulle het net ‘n klein bietjie hulp nodig om te kan oorleef. Verstommend, maar waar.  Helikoptervlieënier Iain McConnell en sy span het so ‘n belewenis gehad toe Orkaan Katrina New Orleans in 2005 getref het. Hy was deel van ‘n span wat vyf helikopters moes bedryf om mense van hulle huise se dakke te red en na veilige versorging te neem.

Tot die vlieëniers se skok wou redelik min mense regtig gehelp word. Die vlieëniers het  gewaarsku die dakke is onveilig, die huise kan instort, die water gaan vir ‘n lang tyd hoog bly, die omstandighede is onhigiënies, en die blootstelling op dakke is sleg vir mense gesondheid. Nogtans het verreweg die meeste geweier om gered te word.  Die waarheid is, sê McConnell, dat die mense nie besef het hoe ellendig en benard hulle situasie was nie. Dat daar nie nog meer lewensverlies was nie, is ‘n wonderwerk.  Dit is hieroor wat Paulus skrywe aan die Kolossense om hulle te waarsku dat hulle die redding wat Christus bring moet ontvang, ontgin, en ontplooi.

Share