Jeremia 31:27-34 – Twee en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 16 Oktober 2016

Vers 33 is die beste aansluitingspunt vir kinders: “Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê.” Lag saam oor die absurde idee van God wat ons harte uit ons bors uithaal en met ‘n pen daarop skryf.  Gesels dan oor die idee van iets “uit jou kop uit” memoriseer. Om net ‘n Bybel te hê, beteken nie veel nie.  Dit is eers wanneer ons dit lees, wat dit regtig ons s’n word – in ons harte geskryf word.  Dan word die woorde op papier woorde in ons harte.

Die preekriglyn lei in met  die feit dat ons pogings om ons eie geluk te skep dikwels boemerang.  Anne Widdecombe skryf: “Laat ons erken, ons is nie ‘n meer gelukkige samelewing as gevolg van die bevryding van die 1960’s en 1970’s nie. Ons het al die bande afgegooi. Nou bereik die egskeidings-koers rekordvlakke, so ook die koers van selfdood, van tienerswangerskappe, van jeugmisdaad, asook van kinderseks. Ons moet eerlike wees en erken die Groot Eksperiment het misluk. Jy kan nie geluk hê sonder om norme en waardes na te volg nie.”  Jeremia speel in op dié toedrag van sake wat ook in die sesde eeu v.C. geheers het in Israel. God se volk het ook in sy tyd hul eie kop gevolg. Hulle het God probeer paai met uiterlike vormgodsdiens, en gemaak soos hulle wil. God los hulle egter nie, maar voed hulle op, tug hulle, en bring hulle weer by sy genade uit.  God se gewilligheid om met sondige mense te bly werk, selfs in die aangesig van hul opstand en verwerping van Hom as God, is verstommend. Hy is genadig, geduldig en vol liefde. God bly by sondaars, werk met hulle, lei hulle deur die woestyn en – in hierdie geval – deur ballingskap, maar bring hulle uiteindelik altyd weer by sy genade uit. Hy belowe dat die volk weer sal floreer en sluit ‘n nuwe verbond met hulle.

sept-webbanners-r-12sept-4

Share