Jesaja 9:1-4 – Derde Sondag ná Epifanie – 22 Januarie 2017

Met Familietyd kan jy die storie van die Son-brood vertel om die kinders en hulle ouers te laat nadink hoe ons meer soos die lig van God kan wees. Jy kan ook ‘n flits wat nie batterye in het nie gebruik om te illustreer dat ons die Lig van God – die batterye – in ons eie lewe nodig het voor ons ligte kan wees in die wêreld.  Jy kan ook gesels oor hoe een lig donker kan verdryf – bv. ’n LED-liggie aan jou sleutelring, of ’n naglig – iets wat kinders goed verstaan!  Dan kan jy ’n naglig wys en gesels oor hoe dit kinders help om nie bang te wees nie.  Die preekriglyn begin met die tragiese en ontstellende verhaal van Alison Oates wat verlede jaar in haar plaashuis buite Harrismith grusaam aangeval en verkrag is. Toe sy by die polisie en hospitaal aangekom het, het sy egter beleef dat haar nag van hel egter nie verby was nie.

Sy is gruwelik verwaarloos en verontagsaam. Nadat sy besluit het om die saak nie net daar te los nie, sê sy: “Ek het goeie en slegte dae, maar ek het nie daardie dag so hard baklei om te bly leef net om nou ‘n lewende dooie te wees nie.  Dit lei die preekriglyn se besinning oor die vernedering wat alle mense op een of ander manier beleef. Sommige mense word egter aan soveel vernedering, minagting en verontmensliking blootgestel, dit laat jou sidder. Dit is waarna ons teks verwys met die gebiede van Sebulon en Naftali wat verneder is saam met die res van die Noordryk deur die Assiriërs se invalle in die Noordryk in die 8ste eeu. Die hele bevolking van die Noordryk is met iets soos ‘n massiewe plaasaanval en plaasverwoesting getref. Die mense van die Noordryk se hele leefwêreld het in duie gestort en baie is deur Assirië in ballingskap weggevoer. Hoewel hulle geen onskuldige lammetjies was nie – vóór die val van die Noordryk leer ons hulle ken as arrogante, godsdienstig sorgelose mense met ‘n skyngodsdiens, soos Amos en Hosea dit noem – bly die Here betrokke by sy volk, ten spyte van hulle groot sonde.

God belowe om hulle weer op te tel en ‘n wending te bring.  In die toekoms sal God hulle in eer herstel.  Die volk wat in donkerte geleef het sal ‘n groot lig sien en weer groot blydskap beleef.  Die blydskap wat beskikbaar sal wees in die Seun wat vir hulle gebore sal word. Jesus se vestiging in die dorp Kapernaum, juis in dié gebied, was vir die evangelieskrywers ‘n duidelike vervulling van die eerste deel van die profesie oor Sebulon en Naftali – Mat 4:12–17.  Jesus is dus die lig waarna Jesaja in die profesie uitgesien het.  En die koninkryk wat Jesus kom stig het, is die vervulling van die tweede deel van die profesie oor die Dawidsryk.  Daarom kan hulle – en ons – leef ons met die vaste vertroue: IN Jesus het ons die lig, al moet die lig nog volkome vir ons almal op hierdie wêreld deurbreek.

Dec-web-banners 13

Share