Psalm 31:9-16 – Sesde Sondag in Lydenstyd – Palmsondag – 9 April 2017

Daar is ‘n uitgebreide beskrywing van die gebruik van palmtakke, kruisies van palmblare gevleg wat as boekmerke gebruik kan word, en dan die volgende jaar verbrand word vir die Aswoensdag vieringe. Die preekriglyn begin met die verhaal van die eerste weke van die sendeling David Brainerd onder die Amerikaanse Indiaan-boorlinge.  Hy het  vir drie jaar geen vrug op sy arbeid gesien nie.  Na drie jaar was daar ‘n plotselinge geestelike oplewing onder die Indiane. Agttien maande later het reeds 150 persone besluit om Jesus as Here en Verlosser te volg. Dit was – vir die omstandighede – ‘n besondere hoë getal.  David Brainerd is na vyf jaar op sy sendingveld oorlede, slegs 29 jaar oud.

Sy joernaal is egter wyd in die VSA en in Europa gelees en inspireer onder andere vir William Carey, die vader van die moderne Protestantse sendingbeweging, waaruit miljoene bekerings wêreldwyd gevolg het. Wie kan besluit of iemand se lewe en se lewenstaak die moeite werd is, of vrug sal hê? Veral te midde van groot lyding? Wie kan dink of droom dat daar uit intense lyding, swaarkry en mismoedigheid enige vrug kan kom?  Tog is dit wat God doen. God het dit deur die lewe van David Brainerd gedoen. Maar God het dit veral in die onmeetlike lyding en sterwe van Jesus Christus gedoen. Sy wonde, sy sterwe en gebroke liggaam het dié bron van lewe geword.  Psalm 31 pas op Jesus se lippe.  Toe Jesus tydens sy verlatenheid en lyding gebid het, het Hy uit dieselfde psalms gebid waaruit ons bid. Ook vir Jesus was die psalms ‘n bron van troos en het dit aan Hom woorde gegee in sy situasie. Psalm 31 vertolk die lyding van Jesus en die vertroue wat Hy in God gehad het om Hom deur die  dood te dra en daaruit te red.  Daarom lees die kerk deur die eeue Jesus se verhaal so geredelik in Psalm 31 in. Veral die klag in nood en die vertroue op God in lyding pas volkome by Jesus se lewe.

NOVweb-banners-8

Share