Johannes 20:19-31 – Tweede Sondag van Paastyd – 23 April 2017

Onthou, dis nie altyd nodig om ‘n “lessie” uit ‘n teks te haal nie. Kinders moet gewoon die Bybel leer ken! ‘n Paar lesers wat vandag se teks as verskillende karakters lees, kan goed werk.  Of gebruik die voorstel van Carolyn Brown dat jy vandag vraag-Sondag maak.  Nooi mense om vrae te vra – verbaal of op papiertjies.  Lees die vrae.  Brei uit deur nog verwante vrae by te voeg.  Vier die vrae.  Moenie vrae antwoord nie – selfs al kan jy.  Beloof eerder om dit in die volgende weke te hanteer.  Die preekriglyn begin daarom ook met ‘n vraag: Hoe is dit moontlik dat ons vandag in die opgestane Here Jesus kan glo? En antwoord wel dié vraag dat Johannes in ons teks vir ons vertel dat daar twee maniere is waarop mense kan glo: eerstens deur Jesus direk en persoonlik te ontmoet, te sien en selfs aan Hom te raak. Dit is die manier waarop Maria, Petrus, Johannes en ook die twyfelende Thomas leer glo het.

Sedertdien is daar miljoene mense wat nie die voorreg het om in die binnekamer saam met pas opgestane Jesus te wees nie, op “daardie Sondagaand”, die aand van die eerste dag waarop Hy opgestaan het, waarvan ons in ons teks lees nie.  Hoe kom mense soos ons dan tot geloof? Johannes skryf in verse 30-31: “Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê” (20:30, 31).  Jesus sluit daarom ons teks af met ‘n saligspreking: Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.(29). Hy praat oor ons. En oor hoe ons tot geloof kom.

Share