Johannes 17:1-11 – Sewende Sondag van Paastyd – 28 Mei 2017

In vanoggend se teks bid Jesus vir ons en vir Christene oral.  Volg sy voorbeeld en laat almal bid!  Almal kan gebede teken – dan kan julle dit volgende Sondag iewers in die kerk wys.  Leer ook die kinders om hul hande te gebruik om te onthou vir wie hulle almal moet bid.  Voorbeeld ingesluit.  Die preekriglyn begin met die verhaal wat Malcolm Gladwell vertel in sy boek Outliers oor die dorpie Roseto in die Amerikaanse staat Pennsylvania. Die eerste inwoners van die dorpie was afkomstig van die gelyknamige dorpie Roseto Valfortore in Italië. In die 1950’s trek die dorpie aandag omdat daar feitlik glad nie hartprobleme voorkom nie. Na baie en diepgaande onderhoude deur ‘n span navorsers het hulle agtergekom dat daar ook nie selfdoding, alkoholisme, dwelmverslawing of selfs misdaad voorgekom het nie. Die een na die ander moontlikheid as verklaring hiervan is deur goeie navorsing uitgeskakel totdat die volgende insig by die navorsers deurgebreek het: “Die oorsaak van die goeie gesondheid was Roseto self.” Roseto was ‘n sprankelende voorbeeld oor die verband tussen verhoudings, gemeenskap en lewe. Goeie verhoudings is belangrik vir lewe om te gedy!  Op hierdie punt is daar wesenlike ooreenkomste tussen Roseto en die evangelie van Jesus Christus. Mens herken belangrike aspekte van ons teks uit Johannes 17 in die lewe van hierdie dorpie.

Share