Genesis 18:1-15 – Tweede Sondag in Koninkrykstyd – 18 Junie 2017

Vertel die ingeslote storie van Justin. Die punt is om die idee van ’n belofte wat verwagting skep op die tafel te sit, die wag daarvoor te beklemtoon en daarna die vervulling van die belofte te vertel. Sluit daarna aan by die verhaal van Abraham en vertel kortliks die storie. Die preekriglyn begin met ‘n dramatisering van die teks wat die besondere openbaringskarakter van die verhale in Genesis uitlig. Dit help ons om diep na te dink oor die lewe, oor God, oor menswees en oor wat regtig belangrik is in dié lewe. Dit sluit vir ons die betekenis van ons menswees oop en nooi ons uit om op die belangrike dinge te konsentreer.

Genesis 18 wys in dié verband vir ons hoe gasvryheid ‘n sleutel is tot ‘n diep verhouding met God, ‘n herstelde verhouding met mekaar en ‘n lewensveranderende verhouding met die wêreld. Gasvryheid is nie maar ‘n toevallige ding wat sommige kan doen en ander kan nalaat nie. Dit het nie net met jou persoonlikheid te make nie, maar met die diepste dele van jou menswees. Dink net as ons die beste wat ons het, kan netwerk met die slegste wat ons het! Die meeste met die minste! Die siekste met die gesondste! Die oudste met die jongste! Die vinnigste met die stadigste! Die rykste met die armste! Die slimste met die domste!

Share