Genesis 21:8-21 – Derde Sondag in Koninkrykstyd – 25 Junie 2017

Kinders het gewoon nodig om die Bybelverhale te hoor. Jy kan dus net fokus op die verhaal. As jy kreatiewe lidmate het, kan julle die verhaal opvoer! Daar is ook voorbeelde van ‘n video, speletjie, en ‘n legkaart-vertelling! Die preekriglyn begin met skilder Rina Badenhorst se vierde uitstalling (en haar vyftiende solo-uitstalling sedert 1975) in Port Elizabeth in Mei 2017 wat die verhaal vertel van die verskriklike verwoesting in die Siriese stad, Aleppo. Voorheen was daar in Aleppo een van die grootste groepe Christene in die Midde-Ooste. Hul sterftes in die oorlog sowel as die vlug van duisende as vlugtelinge het hul getalle egter van sowat ‘n kwart miljoen tot onder ‘n honderdduisend verminder, met slegs sowat 45 kerke wat vandag nog oor is. En dit is hierdie oorlog wat die agtergrond vorm vir Rina se uitstalling: Aleppo: Life in the Rubble of Destruction. Die verhaal van die uitstalling eindig met twee skilderye. Die een word gepas Into Darkness genoem wat die oorlog en die nasleep daarvan met donker kleure en vorms betreur.

Die ander een is Flight into Light wat ‘n glinstering van hoop gee dat hierdie oudstes van stede in ons wrede wêreld, Aleppo, weer ‘n opstanding kan beleef. Dit verskaf ’n gepaste inleiding vir die spanning in Abraham se huisgesin met die geboorte van Isak. Dit bring die huishoudelike drama tussen Sara en Hagar tot ‘n keerpunt. En Sara se bevel dat Hagar en Ismael weggejaag en afgesny word van haar en Abraham se gesin, ruk ‘n mens aan die hart. Die teks laat ons dus nadink oor verlorenheid, God se getrouheid in die haglikste van omstandighede, oor wat sy seën in redding beteken, oor omgee vir die “ander” en die situasie van vlugtelinge en ontworteldes. Die teks help ons dus om te besef mens dat almal in die wêreld se lyding is ook ons lyding. Daarom dat ‘n Afrikaanse skilder in Port Elizabeth ‘n uitstalling oor die smart van Aleppo kan hou. Ons staan nie los daarvan nie, maar moet daarvoor bid en die Here vra wat anders ons moet doen. So ook met al die ander ellendes oor die wêreld heen. Ons doen dit met ‘n beroep op God, die Een wat volgens die Bybel op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende is.

Share