Genesis 22:1-14 – Vierde Sondag in Koninkrykstyd – 2 Julie 2017

Carolyn Brown meen dat hierdie verhaal die grusaamste verhaal in die Bybel. Kinders mag wonder of hullle ouers hulle dalk ook sal offer! As jy die verhaal oor die boeg van vertroue gooi, kan jy die ingeslote speletjie speel oor vertroue as inleiding om oor vertroue te gesels. Die preekriglyn begin met ‘n dramatisering van die verhaal wat eindig met die boodskap dat Abraham met sy terugreis hierdie groot insig bekom het: “Die Here voorsien. Op die berg van die Here word voorsien.” Die implikasies van hierdie ontstellende verhaal word dan uitgelê in terme van die erns van geloof wat in die eerste plek geïllustreer word in die absolute onverdeelde lojaliteit wat God van Abraham vra.

Geloof is nie speletjies nie. Dit is ‘n ernstige saak van lewe en dood. Die ander kant van hierdie boodskap is egter ook dat geloof in die tweede plek vir God ‘n ernstige saak is. God sê immers vir Abraham: “Nou weet ek dat jy My dien …” Die hemel het ‘n sug van verligting geslaak toe Abraham in God geglo het ten spyte van die toets wat vir hom gestel is. Die derde implikasie van die verhaal is dat geloof ook vir ons ‘n ernstige saak is. God sal waarskynlik nie van jou vra om jou seun of dogter fisiek te offer nie. Hy kan en sal egter van jou vra dat jy Hom eerste stel in jou lewe. Dat jy in die eerste plek lojaal aan Hom sal wees en bly. Selfs al word jy daarin getoets, soos dit was met die Hervormer Johannes Hus, wat die hoogste prys moes betaal vir sy onwrikbare geloof dat die Here Jesus alleen die Christus is teenoor die kerk se leringe van sy tyd.

Share