Home » Preke 2017 » Eksodus 12:1-14 – Veertiende Sondag in Koninkrykstyd – 10 September 2017

Eksodus 12:1-14 – Veertiende Sondag in Koninkrykstyd – 10 September 2017

Vertel die 10 plae vir die kinders op eenvoudige wyse. Daar is ’n Afrikaanse vertelling ingesluit met grafika. Jy kan ook die ekstra stof gebruik. Die doel is om by die tiende plaag uit te kom. Verbind dan die Paasfees (Passover) aan die tiende plaag terwyl die kinders proe aan gebreekte stukkies matzos, en ’n paar opgesnyde stukkies oorskiet braaivleis. Sorg dat dit sonder enige sout gebraai is, maar sprinkel met (bitter) kruie soos oreganum. Onderstreep hoedat die opoffering beteken het die eersgeborenes van die Israeliete “passed over” was. Die preekriglyn val direk weg met ’n beskrywing van die Paasfees. Dit is immers die woorde wat die groot verlossende drama beskryf waarin God vir Homself ‘n volk red en ‘n nuwe mensheid skep. Wanneer ons Eksodus lees, ontmoet ons God as die Verlosser van sy mense, ‘n versorgende God, ‘n teenwoordige God, by sy volk terwyl hulle op reis is van Egipte na Kanaän, van die plek van slawerny tot by die land van belofte en verlossing.

Daarom is die geskiedenis wat Eksodus vertel so belangrik. Die woord Eksodus beteken letterlik “‘n pad of weg uit”. Die boek vertel hoe God “‘n pad uit” vir sy volk voorsien het, hulle wat slawe in Egipte was. Die instelling van die Pasga veronderstel deurgaans dat gelowiges terugdink aan wat God in Egipte gedoen het. Die gelowiges dink ook toekomsgerig: hulle weet dat God hulle op die pad vorentoe sal bewaar, juis op grond van sy reddende dade in die verlede. Terwyl hulle die Pasga vier, hoop hulle ook op hul volkome verlossing, die beloofde land wat wag, die koms van die Messias en die heerlikheid wat God sal laat aanbreek. Geloof gebeur tussen herinnering en hoop. Ook in die Nuwe Testament is geloof ‘n balans tussen herinnering en hoop. Die Pasga is opgevolg deur die Nagmaal. In die nagmaal dink ons terug aan die grootste reddingsdaad van alle tye: Jesus se verlossing aan die kruis. Die tekens van brood en wyn herinner ons hieraan. Maar in die brood en wyn proe ons ook al reeds iets van die groot feesmaal wat met die tweede koms van Jesus sal aanbreek. Wat hou ons staande? Juis die praktiese viering van ons geloof in die hede.

Share