Home » Preke 2018 » Johannes 18:1-19:42 – 30 Maart 2018 – Goeie Vrydag

Johannes 18:1-19:42 – 30 Maart 2018 – Goeie Vrydag

Daar is nie ‘n Familietyd in hierdie preekriglyn nie. Vir die preek word aanbeveel dat die lang teksgedeelte ten volle in die erediens voorgelees word. Daar word dan kort gepreek waarin kortliks op Johannes se effe ander perspektief op die kruisverhaal in vergelyking met die eerste drie evangelies gefokus word. Terwyl die eerste drie evangelies baie sterk op die gewelddadigheid van die toneel fokus, bied Johannes ‘n weergawe wat spreek van Jesus se gesag en beheer, selfs in die benouendste oomblikke op sy lydensweg. Johannes skets dus ‘n toneel wat troos en bemoedig. Terwyl die wêreld in rep en roer is en die ergste dinge Jesus toeval, bly Hy triomfantelik. Hy wyk nie af van sy lydensweg nie. Met dit gesê, is daar egter die gevaar dat ons kan verdwaal in ‘n ontvlugting van die werklike betekenis. Ons moet raaksien dat Johannes ons ‘n verhaal bied om ons bewus te maak van die heil in die kruisdood van Jesus.

‘n Verhaal van die sterwe van die Paaslam en die heil vir die wêreld. Dit is daarom ‘n verhaal wat vertel van die medelye van die Seun van God met die wêreld in nood, eerder as ‘n verhaal wat ons oproep om medelye te hê met die Seun van God wat ly en sterf. Die verskil is subtiel maar deurslaggewend! In ‘n verrassende wending roep die verhaal volgelinge van die triomfantelike lydende Seun van God op om Hom te volg in sy lyding. Dit is immers deur Hom te volg, dat ons sal wees waar Hy is. Goeie Vrydag is daarom presies dit: ‘n GOEIE Vrydag. Deur die vrywillige dood van die Goeie Herder wat sy lewe vrywillig vir sy skape aflê, het God die finale stryd oor die dood en boosaardigheid behaal; selfs waar dit lyk asof die boosaardigheid die oorhand het. Aan die hand van die Johannesevangelie is dit ‘n dag om die triomfantelike verhoging van die Seun van God te herdenk. Ek wens jou daarom in sy Naam ‘n Goeie Vrydag toe!

Share