Johannes 20:1-18 – 1 April 2018 – Paassondag

Vir Familietyd kan die uitbeelding by die Oorsig gebruik word of die pragtige video uit die Jesus Storybook Bible gewys word óf die ingeslote voorbeeld van ’n regte paaseier gebruik word. Dit is vandag Paassondag en die kernboodskap van hierdie gedeelte is: Jesus het opgestaan! Hy het waarlik opgestaan! Paassondag beteken dat ons met hoop kan lewe. Hoop omdat die graf oop is. Hoop omdat die klip weggerol, die doeke opgevou en die graf leeg is. Hoop, want Jesus het opgestaan juis sodat mense wat dink dat hulle perfek is, en dit nie is nie, met hoop kan lewe. Ongelukkig verdwyn hierdie boodskap in ’n wêreld wat deur miswolke geteister word. Ons word daagliks deur miswolke verhinder om Jesus se oop, leë graf te sien. In plaas daarvan om hierdie boodskap van hoop te sien, sien ons hoe die regering se besluite Suid-Afrika se toekoms in gevaar stel. Dink maar aan die heersende politieke onsekerheid oor grond en eiendom. Opposisiepartye skarrel om munt hieruit te slaan, terwyl hulleself nie werklik alternatiewe bied nie.

Ons sien korrupsie, nepotisme en die gevolge van die rommelstatus. Ons sien ons onvermoë om armoede, werkloosheid en rassisme aan te spreek. Ons sien plaasmoorde en hoe oppervlakkig sommige voorgestelde oplossings is. Ons sien hoe gewelddadig ons samelewing is, want mense sterf vir R10, ’n selfoon en ’n skootrekenaar. Maar ons sien ook hoe hooploosheid verdwyn as ons met ’n ander oog na die omstandighede kyk. Ons sien ons hoef nie bang te wees nie, want alles is nie verlore nie. Ons sien ’n toekoms te midde van bekommernisse. Ons sien in droë stoppellande sonder oes vooruitsigte, ’n plant met drie rooi blomme aan. Ons sien ’n leë graf, want Jesus het opgestaan. Ons sien weer lewe, want Hy lewe en daarom het ons hoop! Om dít te kan sien, moet ons anders kyk na die werklikheid. Nie om dit mis te kyk nie, maar om met geloofsoë daarna te kyk. Oë wat ’n leë graf sien omdat die Here opgestaan het en lewe. Dit het Maria gesien toe sy by die graf gekom het, ook Petrus en Johannes.

Share