Home » Preke 2018 » Johannes 20:19-31 – 8 April 2018 – Tweede Sondag van Paastyd

Johannes 20:19-31 – 8 April 2018 – Tweede Sondag van Paastyd

Gebruik verskillende lesers om die skriflesing te dramatiseer. Die preekriglyn lei in met die Afrikaanse spreekwoord wat sê iemand is “‘n ongelowige Tomas”. Tomas was egter geen ongelowige nie. Hy was wel ‘n twyfelaar. Twyfel speel ‘n sentrale rol in Johannes 20:10-31, soos in elke gelowige se lewe. Twyfel skep onsekerheid by gelowiges oor hulle saligheid en oor die sekerheid van ‘n lewe met God in ons wêreld. Geloofstwyfel is opsigself nie sonde nie. Die vraag is wat ons daarmee doen. Dit is ook nie ‘n teken van ‘n “minderwaardige” geloofsverhouding of van ongeloof nie. Trouens, geloof en twyfel loop hand aan hand. Gelowiges lewe in ‘n wêreld waar God se liefde maklik versluier word deur ons daaglikse lewensomstandighede.

Geloofstwyfel beïnvloed elke gelowige se verhouding met die Here op die een of ander stadium van die lewe. Vandag gesels ons oor die twyfel van menige gelowige vanweë die dag en tyd waarin ons leef. Twyfel veroorsaak dat gelowiges moedeloos word en dat hulle geloof in die spervuur beland. Dit lei onwillekeurig na onsekerheid oor wie God is en wat Hy sal doen as gelowiges twyfel. Uiteindelik kom hulle sekerheid rakende die ewige lewe ook in die gedrang. Ons kan egter nie net op twyfel konsentreer nie. Die teks gee ook hoop aan verwarde mense in ‘n deurmekaar wêreld.

Share