Handelinge 3:12-19 – 15 April 2018 – Derde Sondag van Paastyd

Jy kan die Skriflesing integreer met die familie-oomblik. Daar is ‘n paar skakels na ander hulpmiddels wat jy kan gebruik, video’s, aktiwiteite en inkleurprente. Die preekriglyn verwys terug na die radikale nuwe lewe en lewenswyse binne die gemeente van die Here waarvan Handelinge 2 vertel. Handelinge 3 vertel nou verder van die gemeente se aksie na buite. Versorging en opbou van die gelowiges na binne in is hoofstuk 2 aan die orde, die gemeente se missie na buite – “by die tempelpoort” – kry in hoofstuk 3 aandag. Ons teks is dus deel van ‘n groter vertelling waarin die bedieningspatroon van die gemeente in Jerusalem oorvertel word. Die voortgang van die opgestane Jesus se bediening na die uitstorting van die Heilige Gees word vir ons duidelik. Een sentrale tema is: Beide opbou en uitreik geskied deur die krag van die Heilige Gees. Die gemeente wat in Christus nuut gemaak is, het ‘n impak op die gemeenskap.

Share