Johannes 15:9-17 – Sesde Sondag van Paastyd – 6 Mei 2018

Lees die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders en vertel dan die ingeslote pragtige storie van “Four Feet, Two Sandals” deur Karen Lynn Wiliams and Khadra Mohammed om die opdrag “wees lief vir mekaar” te illustreer. Die preekriglyn begin met die verhaal van Cameron Hollopeter, 19, wat ‘n epileptiese aanval gekry terwyl hy vir ‘n ondergrondse trein op ‘n New Yorkse stasie gewag het. Aangesien sy liggaam buite beheer saamgetrek het, het hy van die platform op een van die treinspore geval, reg voor ‘n aankomende trein. Wesley Autrey, 50, ‘n konstruksie werker, het met sy twee dogters ook op die platform vir ‘n trein gewag. Hy het gesien hoe Hollopeter val. Hy het op die spoor gespring en Hollopeter vasgegryp. Saam het die twee in die afvoersloot tussen die twee spore gerol.

Millisekondes later het die trein bo-oor hulle gery. Wonderbaarlik is nie een van die twee mans beseer nie. Autrey is ryklik vir sy heldedaad beloon, maar hy het die hele tyd baie nederig oor die heldedaad gebly. “Dis eintlik niks,” het hy gesê. “Ek het dit maar net gedoen omdat iemand dringend hulp nodig gehad het. Iemand moes tog help.” Met sy onselfsugtige optrede roep hy Jesus se woorde in herinnering: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê”(13). Wat nog te sê om sy lewe op die spel te plaas vir iemand wat hy nie eers geken het nie. Ons weet ongelukkig nie of Wesley Autrey ‘n Christen is nie. Dit is egter nooit “sommer niks” om jou lewe in liefdesdiens vir ander op die spel te plaas nie. As volgehoue lewenswyse is liefdesdiens iets wat uit die intieme gemeenskap met Vader, Seun en Heilige Gees in ons lewens gebore word.

Share