Handelinge 1:1-11 – Hemelvaart – 10 Mei 2018

Lees die verhaal uit ‘n kinder-vriendelike Bybel, dalk met behulp van dié video waarvan ‘n skakel ingesluit is. Klik hier vir dié video. Daar is nog ander kreatiewe hulpmiddels ingesluit waarmee jy die verhaal kan vertel. Die preekriglyn sluit by Lukas se evangelie aan en wys hoe alles wat Jesus gedoen en geleer het nou verder voortgesit sal word in die wyse waarop die Heilige Gees die apostels gaan lei en aan die kerk as geloofsgemeenskap gaan vorm gee. Vandag, wanneer ons Hemelvaartfees vier, word ons ook uitgedaag om na te dink oor ons reaksie op hierdie gebeure.

Die versoeking is altyd daar om te reageer soos die dissipels aanvanklik reageer het: passief, deur op een plek te bly staan en nie te doen waarvoor hulle geroep is nie. Dalk is die grootste gevaar nie eers dat ons passief is nie, maar met die verkeerde goed besig is. Is ons dalk besig om die een of ander koninkryk op te rig wat nie in pas is met wat God vir ons wil nie, soos die dissipels gehoop het dat God Israel se koninkryk in daardie tyd sal herstel, maar Jesus hulle daarop gewys het dat dit nie vir hulle is om iets daarvan te weet nie? Ons is nie geroep om stil te staan, te spekuleer of om ander koninkryke te bou nie, maar juis om terug te keer na ons konteks (ons “Jerusalem”?), om daar en verder weg te getuig. Die troos is dat ons dit nie alleen doen nie. Dit is immers die verhaal van Handelinge dat Jesus nou deur sy Gees, in die kerk, steeds “doen en leer”.

Share