Home » Preke 2018 » Johannes 15:26-27; 16:4b-15 – Pinksterfees – 20 Mei 2018

Johannes 15:26-27; 16:4b-15 – Pinksterfees – 20 Mei 2018

Hierdie is ’n spesiale feesdiens. Kinders kan lekker deelneem as jy vooraf vlam-kleurige “streamers” maak van sagte lap wat aan ’n stokkie vasgemaak word. Laat die kinders (en ’n paar volwassenes) dit tydens die lofsang swaai. The Day When God Made Church deur Rebekah McLeod Huttois is ook ’n pragtige storieboek wat Pinkster verduidelik. Jy kan die hele boek lees by die skakel wat ons verskaf. Daar is ook ‘n mooi inkleurprent en ‘n voorbeeld van ‘n kort toneelstuk. Die preekriglyn sluit by die gedagte van Pinksterdag as die geboortedag van die kerk aan. Op ‘n dag soos vandag dink mens aan ‘n verskeidenheid tekste uit die Ou Testament wat hierdie wonder verwoord. Daar is die oesfees in die Pentateug. Daar is Esegiël se visioen van die beendere wat weer lewe kry.

Daar is ook die Nuwe Testament se verdere besinning hieroor. Paulus raak liries in Romeine 8 oor die Gees wat ons bystaan. Dit gee vir ons ‘n konteks waarbinne ons die wonderlike boodskap van Johannes 15 kan hoor dat ons Trooster ons in die waarheid lei. Stephan Joubert skryf as volg: Saam met die Vader vorm die Seun en die Parakleet die hemelse eenheid wie se missie dit is om mense hier op aarde te verlos en deel te laat hê aan hierdie ewige Goddelike familieverwantskap. Die Johannes-evangelie noem drie aspekte van hierdie bemiddelende teenwoordigheid. Van die kerk word nou waar wat in die eerste plek van Jesus waar was. Jesus het uit die krag van die Heilige Gees geleef. Vanaf Pinksterfees word hierdie werklikheid ook vir die kerk – vir ons – beskikbaar.

Share