Home » Preke 2018 » 1 Samuel 15:34 – 16:1 – Vierde Sondag in Koninkrykstyd – 17 Junie 2018

1 Samuel 15:34 – 16:1 – Vierde Sondag in Koninkrykstyd – 17 Junie 2018

Onthou, dit is belangrik dat kinders die Bybelverhale hoor. Jy kan die teks dramaties lees, uit ’n kindervriendelike Bybel lees, kinders kry om dit op te voer terwyl jy dit lees of ’n video van die Skriflesing wys, soos die ingeslote een uit die Jesus Storybook Bible. Daar is ook ’n volledige byeenkoms op grond van die Jesus Storybook Bible se vertelling van Dawid se salwing. Ons teks begin op ‘n mismoedige noot. Koning Saul en profeet Samuel se weë skei. Dit gebeur omdat Saul se koningskap misluk. Saul is ongehoorsaam aan die Here se opdragte. Daarom is die Here spyt dat Hy Saul koning gemaak het, en Samuel profeteer dat die Here die koningskap van Saul wegneem. Hierdie skokkende gebeure laat Israel in ‘n moeilike posisie. Saul is steeds koning, deur Samuel gesalf. Nou het Samuel aangekondig dat God teleurgesteld is en Saul as koning verwerp.

Op die koop toe wil die Here ‘n nuwe koning in Saul plek aanwys uit die geledere van Isai se seuns. Vanselfsprekend is Samuel skepties en vreesbevange. As Saul daarvan hoor, gaan die vonke spat. Die Here wil niks hoor nie. Samuel moet gaan met die versoek dat hy vir die Here ‘n offer wil bring. God sal dan wys wat hy moet doen en wie hy tot koning moet salf. Samuel moet aangepor word om te doen wat die Here wil hê. Ons teks praat dus sterk oor leierskap, en oor die feit dat leiers aan God verantwoording verskuldig is. Trouens deur Hom aangestel word. Aangesien God konings in skaapwagters sien, moet ons stadig oor die klippe met ons oordele oor ander. Ons kan nie baie ver sien nie, en ‘n mens kan nie ‘n boek bloot op sy omslag beoordeel nie.

Share