Home » Preke 2018 » Markus 6:1-13 – Sewende Sondag in Koninkrykstyd – 8 Julie 2018

Markus 6:1-13 – Sewende Sondag in Koninkrykstyd – 8 Julie 2018

Begelei die kinders aan die hand van ‘n verduideliking van wie George Washington was en hoe mense op hom gereageer het (inligting by die skakel), om hulle te help verstaan hoekom die mense van Jesus se dorpie nie na hom wou luister nie. Kleiner kinders sal waarskynlik nie verstaan wat jy bedoel as jy sê dat ons ook nie altyd vir Jesus erken nie. Praat eerder oor die manier waarop God almal wil gebruik, maar ons idees oor hulle soms maak dat ons nie sien hoe God hulle gebruik nie. Die preekriglyn sluit hierby aan met die verhaal van Arlyn Lawrence wat vertel hoe haar 13-jarige dogter, Heather, begin kla het oor pyn in haar regtersy. Dit was haar blindederm, ‘n noodoperasie was nodig. By die hospitaal aangekom, het Arlyn haar moed bymekaargeskraap en vir haar dogter gebid. Sy het gevra die Here Jesus moet Heather aanraak en vir haar genesing gee. Spoedbloedtoetse is gedoen, wat ‘n verhoogde witbloedtelling aangedui het. Heather is vir ‘n sonar gestuur, en die chirurg het begin gereedmaak vir die operasie.

Dit was op pad na die sonar dat Arlyn die eerste verandering by Heather opgemerk het. Toe vind die sonar plaas. Die radiografis kon nie die ontsteekte blindederm sien nie. Die radioloog kom handjie bysit. Hulle druk op die pynlike area van haar liggaam, maar Heather beleef nou nie meer pyn nie. Chirurgie was nie meer aangewese nie. By die huis aangekom, lui die foon. Dit is die bekommerde dominee wat gehoor het van Heather se terugslag. Hy wil hoor hoe het die operasie afgeloop. Heather het die oproep beantwoord. Arlyn hoor hoe sy sê: “Alles is reg, dominee. Geen operasie nie. Ek het wel verskriklike pyn gehad. Toe bid my ma vir my. Die Here het my toe genees.” Met dié verhaal word Jesus se sending van sy dissipels vierkant op die tafel geplaas. En dit roep ons op om op dieselfde wyse as hulle, en as Arlyn, die Here te vertrou vir genesing. Ons as Westerlinge kan so wetenskaplik raak dat ons die vanselfsprekende wonder van God se daaglikse aanraking en genesing nooit raaksien, of daarom vra nie. Ons leef in ‘n geslote wêreld, waar daar min ruimte is vir die feit dat God soms die effek van siekte en lyding wegneem. Soms ook nie, soos in Paulus se geval waar God se genade vir hom genoeg was. Hoe minder ons bid om genesing en herstel, hoe minder daarvan beleef ons.

Share