Home » Preke 2018 » Markus 6:14-29 – Agste Sondag in Koninkrykstyd – 15 Julie 2018

Markus 6:14-29 – Agste Sondag in Koninkrykstyd – 15 Julie 2018

Soos altyd is dit goed dat kinders die Bybelverhale leer ken. Vandag se gedeelte het egter wel ‘n bietjie konteks nodig. Jy kan dalk begin deur hulle te herinner dat die Bybel nie ’n storieboek is nie. Dit vertel van die regte lewe. Die regte lewe is nie altyd net lekker en goed nie. Soms gebeur daar slegte goed, ook met God se kinders. Dan kan jy die gedeelte lees en die skakels gebruik na die dramatiese kindervideo of die prente van die gedeelte. Hierdie storie is vir kinders net so ontstellend soos vir grootmense. Jy kan met hulle gesels oor die ervaring wat hulle ook goed sal ken, dat ’n mens soms tweede kom, al doen jy die regte ding.

Om Jesus te volg, beteken soms dat mense lelik sal wees met ons. Dit vorm ‘n goeie inleading na die verhaal van Johannes die Doper se konfrontasie met Herodes Antipas. Dit is ‘n ongemaklike herinnering aan die gevaar om swaarde met ‘n magtige koning te kruis. Selfs as die reg aan jou kant is. Dit is ook ‘n kragtige verhaal wat die Here se volgelinge vandag nog moet hoor. Dit gaan oor getrouheid aan die Here en die waarheid van God. En die persoonlike koste wat getrouheid aan die Here meebring. Ons leer oor die gevare van lus, selfbedrog, ontrouheid in huweliksverhoudinge, hoe ‘n leier misluk om verantwoordelikheid te aanvaar, en wat die gevolge is van sy gedrag. Ons ontdek hoe verskriklik die resultaat van mislukking op hierdie terreine van die lewe is.

Share