Efesiërs 2:11-22 – Negende Sondag in Koninkrykstyd – 22 Julie 2018

 Kinders raak baie gou baie bewus van klasse, spanne, klubs waarin maats hulle groepeer. Sulke groepvorming kan baie eksklusief wees en ‘n “hulle” en “ons” bewussyn skep. Daarom sal hulle die verassing van die insluitende boodskap van Paulus in dié gedeelte baie goed kan hoor, veral as ‘n mens dit vertel teen die agtergrond van die vele reëls waarmee die Jode gesorg het dat die heidene buite bly. Die preekriglyn brei hierop uit. God se vrede vloei voort uit God se genade. Hierdie Christus-gesentreerde vrede word beliggaam in ‘n versoende en heilige gemeenskap, “‘n geestelike huis waarin God woon” (2:22).

In moderne taal sal ons sê Paulus praat oor die nuwe sosiale werklikheid, ‘n gemeenskap, wat deur God se genade en vrede geskep word. Dit bestaan uit voormalige opponente en is ‘n wesenlike deel van die wil van God vir die wêreld. Wanneer ons hierdie gedeelte getrou verkondig, en na die boodskap luister en dit doen, kan versoende gelowiges gemeentes word wat “saam opgebou word as ‘n geestelike huis waarin God woon” (Efesiërs 2:22). Op hierdie maniere kan gemeentes heilige tempels wees wat getuig van dié dag waar daar nie ‘n tempel in die stad sal wees nie, “want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.” (Openb. 21:22).

Share