Johannes 6:1-21 – Tiende Sondag in Koninkrykstyd – 29 Julie 2018

Met hierdie verhalende teks kan jy soos gewoonlik die tekste op dramatiese manier lees of vertel. As jy nie die kans wil vat om so interaktief te wees nie, kan jy die teks dramaties voorlees terwyl daar ’n video wys. Jy kan ook die vermeerdering-verhaal vertel met die hulp van Max Lucado se “Small Gifts in God’s Hands”.  Daar is ook ‘n lekker aktiwiteit wat kinders kan doen terwyl hulle na jou preek luister.  So-nie kan ’n gewone inkleurprent ook werk. Alle skakels na hulpmiddels ingesluit. Die preekriglyn begin met die verhaal van dr Samuel Weinstein, hoof van pediatriese hartchirurgie by die Montefiore Mediese Sentrum in New York.

Hy het in 2006 deelgeneem aan ‘n projek van Heart Care International in El Salvador. Die doel was om lewensreddende operasies op behoeftige kinders te doen.Dit sou meer as kundigheid en gevorderde toerusting verg om die lewe te red van Francisco Fernandez, agt jaar oud. Na twaalf ure van chirurgie het die seuntjie heeltemal buite beheer begin bloei. Die hospitaal het nie oor die nodige medikasie beskik om die bloeding te stop nie. Dit regte tipe bloed was ook nie beskikbaar nie. Francisco se bloedsoort was B-negatief – blykbaar slegs die tipe van sowat 2% van die bevolking. Dr Weinstein behoort tot dieselfde bloedgroep.

Hy het dus sy skalpel neergesit, sy chirurgiese handskoene uitgetrek, en sy hande en voorarm begin was. Toe het hy gaan sit sodat van sy bloed getap kon word. Toe hy klaar bloed geskenk het, het Weinstein gebottelde water gedrink en ‘n koekie geëet. Twintig minute na hy handskoene uitgetrek het, was Weinstein weer by die mediese span. Almal het stil toegekyk hoe die lewegewende bloed in die klein seuntjie se are invloei. Toe het Weinstein die operasie suksesvol voltooi. Dit het klein Francisco se lewe gered. Dit verskaf ‘n wonderlike inleiding om oor die twee wonderverhale in die teks te gesels, oor dié Een wat dieselfde as dr Weinstein kan doen, en nog veel meer! Soos dr Weinstein se bloed lewe gebring het vir klein Francisco, net so konkreet is Jesus die voedsel en die drank van die lewe.

Share