Johannes 6:24-35 – Elfde Sondag in Koninkrykstyd – 5 Augustus 2018      

Vra vir die kinders wie van chips hou (gewone droë aartappel skyfies).  Wie van hulle kan nie ophou eet as hulle eers begin het nie?  Neem ’n groot pak skyfies en (terwyl jy daaruit eet) lees agter op die pak die “ingredients”.  Iewers sal jy die letters MSG lees.  Dit staan vir Mono Sodium Glutamate.  Wikipedia beskryf MSG so: “MSG is used as a food additive and is commonly marketed as a flavour enhancer.” Daar is baie studies wat sê dis eintlik sleg vir jou en is amper verslawend van aard.  In Joh. 6 sê Jesus Sy uitwerking op mense is soos geestelike MSG.  Hulle volg Hom nie omdat hulle die wondertekens gesien het nie (v 26), maar omdat hulle versadig geword het.  Omdat hulle aan die brood van die lewe, Jesus self, geproe het.  Hy is verslawend!  Die preekriglyn sluit hierby aan met die groot vraag vir moderne mense is: wat is ons brood? Moderne Westerlinge is verbruikersmense. Ons glo die regte produkte, en die gebruik daarvan, bring geluk. Jamie Smith beskryf in sy treffende boek (You are what you love) moderne winkelsentrums as tempels. Dit is tempels vir ‘n verbruikersgodsdiens.

Die tempel leer jou – met allerlei boodskappe wat uitbasuin word – dat hierdie sjampoe, of daardie juweliersware, of daardie motor, of hierdie medikasie, of daardie klere, vir jou geluk en vervulling gaan bring. Baie van hierdie dinge is nie slegte dinge nie. Dit faal egter as jy die sin van die lewe daarin soek. Dit stil nie jou diepste honger na ‘n verhouding met die God wat jou gemaak het nie. Dit raak pateties as dit die brood van die lewe word. Wanneer daar dinge gebeur wat ons stroop – soos die droogtes in verskillende dele van ons land oor die afgelope jaar of twee – raak ons ‘n slag weer vry. Vry om los te raak van die valse brood, en te fokus op Jesus, die brood van God. Ons kan weer die valse aantrekkingskrag sien van nagemaakte brood. Brood wat nie ons diepste honger vul nie. Jesus se uitnodiging is: “Ek is die brood van die lewe, wie na My toe kom sal nooit weer honger kry nie, wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.” Ons moet die vaardigheid opskerp om daagliks met Jesus te lewe, in vrede, versadig in sy teenwoordigheid.

Share