Johannes 6:35, 41-51 – Twaalfde Sondag in Koninkrykstyd – 12 Augustus 2018    

Jesus se woorde in vandag se skrifgedeelte is waarskynlik vir kinders net so moeilik om te verstaan as wat dit vir die mense in die gedeelte self was!  Gesels met die kinders oor hoe vreemd dit is.  Wonder saam met hulle wat Jesus hiermee bedoel. Enige interpretasie hiervan, sal vir kinders so eenvoudig moontlik moet wees.  Bring ’n pakkie “bread mix”.  ’n Mens dink jy het net die broodmengsel nodig om brood te maak, maar nee.  Wat moet nog alles bykom?  Om God se kinders te wees, het ons net een ding nodig:  Jesus.  Of jy kan gesels oor hoe ons kos nodig het om te leef.  Net so het ons vir Jesus nodig om te leef – om God se kinders te wees. As julle gemeente ’n kombuis naby aan die aanbiddingsruimte het (naby genoeg dat mense reuke uit die kombuis kan ruik), kan jy reël dat brood gebak word in die kombuis.  Dalk kan kinders tydens die preek gaan brood bak. Of, heel beste, as jy ’n broodmasjien kan kry.  Dan kan jy die brood sommer in die kerk bak!

Die kinders kan jou help om alles in die masjien te gooi.  As jou tydsberekening goed is, kan jy die familie-oomblik rondskuif en alles so bereken dat die brood net mooi aan die einde van die diens gereed is.  Die preekriglyn borduur hierop voort en lig veral die persoonlike betekenis uit. As mens op Jesus se roepstem reageer, na Hom toe kom en Hom vertrou, sal jy ontdek dat jy op vaste grond teregkom. Dit is God self wat jou na Jesus getrek het. Jou geloof is nie afhanklik van jou brose menslike wil, gevoel en denke nie, maar van God wat van jou sy kind kom maak het. Geloof is nie ‘n sprong in die donker nie. Geloof rus is die vaste sekerheid van die beloftes van Hom wat gesterf het, maar ook opgestaan het uit die dood. Hy werk, en niemand kan dit keer nie. Hy kan nie net die vloedgolf van ongeloof keer nie, maar is ook die waarborg van ‘n lewe in oorvloed, van ‘n toekoms sonder weerga. Hy is die Brood wat aan ons die ware lewe gee.

Share