Johannes 6:51-58 – Dertiende Sondag in Koninkrykstyd – 19 Augustus 2018      

William Barclay gebruik ‘n mooi metafoor om die moeilike teks vir kinders in Familietyd verstaanbaar te maak. Jy kan ‘n uittreksel van sy kommentaar oor Johannes 6 in die preekriglyn lees. Dit verskaf ook ‘n goeie inleiding tot die preek self. Op die hoogtepunt van Jesus se lering raak dit duidelik dat die skare afgestoot word deur Jesus se leer. Hoewel die brood wat Hy vroeër vermeerder het, goed afgegaan het, is hierdie woorde dat hulle sy vleis moet eet vir hulle onverteerbaar. Volgende week sal ons sien hoe selfs die dissipels hierdie woorde moeilik sluk: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?”. Natuurlik is die skare se afgryse maklik te verstane. Die gedagte om ‘n mens se vleis te eet, is afstootlik.  Asof dit nie erg genoeg is nie, praat Jesus van die drink van bloed.

Dit is verbode sedert die verbond wat God met Noag gemaak het. En moenie dink dat ons as moderne mense verby hierdie problematiek kom met ons verstaan van die as simbolies nie. Jesus moedig nie ‘n simboliese verstaan van sy woorde hier aan nie. Selfs die woord wat Hy vir “eet” gebruik, herinner aan die manier waarop diere vreet, meer as aan die manier waarop mense eet. Die ontknoping en troos van hierdie teks lê in die nabyheid van Jesus wat sy woorde veronderstel. Jesus het een van ons geword, God by ons. God het verskyn in die gestalte van ‘n mens. Ons kan selfs – deur die genade van God – die werklikheid van God in ons hande neem en dit eet. Met ons verstand kan ons dit nie deurgrond nie – ons hoef ook nie. God het tot by ons gekom, en ons kan deel kry aan die werklikheid van God.

 

 

Share