Johannes 6:56-69 – Veertiende Sondag in Koninkrykstyd; BarmhartigheidSondag – 26 Augustus 2018

As jy dit nie een van die vorige Sondae gedoen het nie, is dit dalk ’n goeie idee om die konsep van die “brood van die lewe” uit te pak aan die hand van die verduideliking wat ons gee. As jy dit nog nie vantevore gebruik het nie, is hierdie ’n goeie geleentheid om die “Sun Bread” storie deur Elisa Kleven te lees met die hulpmiddels wat ons aanraai. Let wel, die preekriglyn veronderstel dat verse 56-71 as perikoop voorgelees word. Daarmee kom ons aan die einde van ons wandeling deur Johannes 6, ‘n aangrypende reis saam met Jesus waarin ons die wonder van God se nabyheid in Jesus herken, en genooi word om in geloof daaruit te lewe. Die boodskap van die hele gedeelte is dat God geloof gee wat vir altyd hou. In ons perikoop word gefokus op die verskil tussen dié wat nie glo nie, waaronder selfs sommige van die dissipels, en dié wat wel glo. Die vraag is hoe jy kan weet dat jy ‘n geloof het wat God gegee het? Die antwoord lê in die paradoks van vers 35 en 65: “Wie na My toe kom … niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.” Geloof lê aan die een kant in die keuse wat ek vir Jesus maak … EN aan die ander kant getuig my keuse van die geloof wat God vir my gegee het. Ek glo, omdat God geloof vir my gegee het. Albei kante van die paradoks is nodig, maar God se kant van die paradoks is die primêre oorsaak van die geloof wat ek in myself ervaar. Daarom kan ek God net dank vir geloof, en nie daarop roem nie, asof ek beter is as hierdie Jode of dissipels nie. Geloof is om vas te gryp aan God, al kan jy niks daarmee verdien en niks daarmee regkry nie … maar vertrou dat God dit kan gebruik, God dit waar kan maak. Soos ‘n Petrus: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”

Share