Home » Preke 2018 » Ester 7:1-6, 9-10 – Negentiende Sondag in Koninkrykstyd – 30 September 2018

Ester 7:1-6, 9-10 – Negentiende Sondag in Koninkrykstyd – 30 September 2018

’n Skakel na ‘n pragtige video met die verhaal van Ester is ingesluit vir Familietyd. Die preekriglyn skets eers die agtergrond van die verhaal voordat die gebeure by Ester se maaltyd vir die koning en Haman op die tafel kom. Dit is hooggespanne oomblikke. Hierdie paar momente gaan bepaal wie lewe en wie sterwe. Vir Ester is daar nie meer omdraaikans nie. Deur Haman as die vyand te identifiseer, identifiseer sy haarself as ‘n Jood. Sy plaas haarself ook onder die koning se bevel dat die Jode uitgeroei moet word. Die koning kies om haar te spaar en só ook haar volk. Haman het vir Mordegai ‘n gat gegrawe. Nou val hyself daarin. Dit gee ons ‘n perspektief op boosheid. Haman se plan is hoe die werklikheid van boosheid lyk. Haman gebruik sy invloed en mag om dood te bring. In Haman se val sien ons egter hoe God se heil en bedoelinge om redding te bring, ‘n nuwe toekoms, voortgaan. Haman illustreer ook dat mens versigtig moet wees om te haat en ander se ondergang te soek.

Die diepste indruk wat die boek laat, is dat God op ongelooflike fyn beplande maniere teenwoordig is in alles wat rondom ons en met ons gebeur. God se hand is in alles teenwoordig, verborge en amper onopvallend, maar werklik en deurslaggewend. Hy laat die regte ding op die regte tyd gebeur, want Hy wil: “alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” (Rom. 8:28). Dit doen hy deur omstandighede, onverwagte wendinge en die keuses van mense, ook jou eie keuses. Ons noem dit God se voorsiening. Hy IS die voorsienigheid! Buitengewone toevallighede is eintlik Godsvallighede!

Share