Home » Preke 2018 » Hebreërs 4:12-16 – Een en twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 14 Oktober 2018

Hebreërs 4:12-16 – Een en twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 14 Oktober 2018

Julle speel krieket en jy kry ‘n lekker harde hou in – maar, o aarde, die bal trek reguit oor die heining en jy hoor glas breek. Jy besef die krieketbal is deur een van die bure se vensters. Almal hardloop en gaan kruip weg, hulle is bang dat die buuroom kwaai oor die muur gaan loer en met hulle raas. Jy kan nie hardloop nie, jy is lam van die skrik. Vensters is duur. Hoe gaan jy dit betaal? Jy besluit vinnig jy sal maar aanbied om die res van die jaar elke Saterdag die bure se motor te was. Toe besef jy een van jou maats wat saam gespeel het, Bennie, het nie weggehardloop nie. Hy staan by jou. Dis die bure se seun! Hy stel jou gerus dat hy met sy pa sal praat en verduidelik wat gebeur het. Hy kom terug en roep jou omdat sy pa met jou wil praat. Hy sê jy hoef nie bang te wees nie, maar jou broek bewe. Jy stap saam en jy kan nie glo wat jy sien nie. Sy pa is toe nie eens kwaad nie!

Bennie het aan hom verduidelik dat hulle gespeel het en dat dit ‘n ongeluk was. Sy pa sê jy hoef nie bekommerd te wees nie. Hy sal met die versekering reël dat die ruit vervang word. Jy hoef nie te betaal daarvoor nie. Baie verlig gaan jy terug, roep jou maats en julle speel verder krieket, maar hierdie keer is julle almal baie versigtig dat so iets nie weer gebeur nie. Dit is presies waaroor die fokusteks vandag handel. Daar is twee kragtige bewegings in ons teks: Verse 12-13: In die eerste beweging word vertel hoe die Woord van God ons voor God blootlê. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart, en ontbloot alles voor God; Verse 14 – 16: In die tweede beweging word ons na die genadetroon van die Hoëpriester, Jesus Christus, geneem. Waar ons wonde en gebreke in die eerste beweging blootgelê is, ontmoet ons in die tweede beweging die voorsiening wat God in Jesus vir ons sonde gemaak het.

Share