Home » Preke 2018 » Hebreërs 9:11-14 – Vier en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 4 November 2018

Hebreërs 9:11-14 – Vier en Twintigste Sondag in Koninkrykstyd – 4 November 2018

Carolyn Brown sê tereg dat die aanvanklike lesers van hierdie teks bekend was met diere-offers. Vir kinders, wat letterlike denkers is, is die konsep van offers gewoon te moeilik om te verstaan. As jy dit egter wel wil waag om hierdie teks met kinders te behandel, begin by ‘n eenvoudiger vertaling. Gesels dan oor die betekenis van bloed in families en Jesus se bloed wat ons skoon was soos water (doop). Of sluit aan by die konsep van “gewete” waarna in die preek verwys word. Hebreërs is ‘n preek wat moeë gelowiges van voor af sterk maak (Stephan Joubert). Hulle het baie teenstand beleef en die Hebreërbrief moedig sy eerste lesers aan om nooit moed op te gee nie. Hulle moet volhard, want Christus kom weer. Hulle swaarkry is nie die einde nie.

Die brief bemoedig die lesers deur van hulle goeie kennis van die Ou Testament gebruik te maak. Om in Jesus te glo en Hom te volg is om op ‘n geloofsreis te wees. Hulle is soos die rondreisende Israeliete in die woestyn. Die gevaar is dat hulle God se groot Sabbatsrus sal misloop – soos die Israeliete – deur handdoek in te gooi. Die groot skare getuies uit die Ou Testament moedig gelowiges aan om trou aan die Here te bly. Hoe sal die gelowiges dit regkry om te volhard? Hulle moet aan Christus vashou as die gesag-hebbende spreekbuis van God. Hulle moet Christus se reddingswerk reg begryp. Hulle moet vashou aan Hom as die enigste Hoëpriester wat ‘n nuwe verbond tot stand gebring het. Christus is die Begin en die Einde van hulle geloofspad.

Share