Eerste Sondag in Advent – 2 Desember 2018 – Lukas 21:25-36

Gebruik die inleiding van die preek, die toneel uit die fliek Shrek, vir Familietyd. Gesels oor die frustrasie van ’n lang reis. Sluit dan aan by die boodskap van die teks. Oorweeg om vanjaar as gemeente “omgekeerde adventkalenders” te maak. Inligting ingesluit. Die preekriglyn begin met ‘n kostelike toneel uit die film Shrek. Shrek, sy verloofde en Donkey is op pad na die koninkryk “Far, far away”. En – omdat dit ‘n reis na ver, ver weg van hier is, is dit ‘n la-a-a-ng reis. Jy het dit seker al self ook beleef? Julle is op pad met vakansie en die pad voel lank. Jy – of die kinders – raak ongeduldig. En die verwagting en ongeduld word woorde: “Hoe lank nog?” “Hoe ver nog?” “Wanneer is ons daar?” Natuurlik is daar ‘n al hoe groter wordende intensie en nood wat opbou.

Dit was dieselfde in Jesus se tyd en Lukas se tyd. Wanneer Jesus oor die naderkom en aanbreek van God se koninklike heerskappy in hulle wêreld praat, vra die mense: “Here, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat is die teken van wanneer dit gaan plaasvind?” Ons teks is deel van Jesus se antwoord op hierdie vraag. Hy praat oor die nabyheid van die koninkryk van God en oor die tweede koms van die Seun van die Mens. Hy belowe dat Hy saam met ons op reis is … en dat ons saam met God op reis is. God is hier teenwoordig en besig. God se nuwe begin is aan ‘t uitrol. Sy koninklike heerskappy ís ‘n toenemende werklikheid al sien ons dit nie raak nie, óf al voel ons nie so nie. Wees daarom wakker. Interpreteer die werklikheid waarin ons leef met wysheid. En leef jou lewe. Geniet die reis. En laat God se hier wees jou in elke oomblik verras.

Share