Tweede Sondag in Advent – 9 Desember 2018 – Lukas 3:1-6

Johannes die Doper het ‘n unieke leefstyl gehad – in die woestyn geleef en vreemde kos geëet. Dit moes darem aaklig gewees het om sprinkane te eet. Laat val die lig vir ‘n oomblik op hierdie wegbereider wat op sy beurt die lig net op Jesus laat fokus. Kry die kinders sover om ook vreemde kos te probeer … wurms! Wurms wat jou mond erg laat brand is algemeen in die winkels beskikbaar. Deel dit aan die kinders uit dat die gemeente hulle gesigte kan sien trek … Of maak vooraf jellie wurms. Metode ingesluit. Die preekriglyn begin met ‘n oorsig van die politieke en godsdienstige situasie in Suid-Afrika en die NG Kerk.

Met hierdie teks word die gemeente van die Here herinner aan die woord van God wat 2,000 jaar gelede tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom het. Lukas gee erkenning aan van die groot figure van sy tyd, sommige van hulle regte skurke. Deur dit te doen, plaas hy Jesus se verhaal in die historiese konteks daarvan. Lukas se punt is: die Jesus-gebeure speel in die geskiedenis af. Dit is nie ‘n sprokie, feëverhaal of dagdroom nie. Dit is geskiedenis, deel van ons geskiedenis. Alles wat verder in die evangelie gaan gebeur is deel van dieselfde wêreld, dieselfde werklikheid waarin ons ook deel. Ons moet egter ons heil nie bloot net van groot leiers verwag nie. Bekering, goddelik-hergeoriënteerde mense, is hiervoor nodig. Dit sluit ons in.

Share