Derde Sondag in Advent – 16 Desember 2018 – Lukas 3:7-18

Carolyn Brown stel voor dat die gemeente met Familietyd deelneem aan vandag se Skriflesing. ‘n Gedeelte van die gemeente is die “mense”, ‘n gedeelte die tollenaars, ander die soldate. Nog iemand is die verteller. Iemand anders is Johannes. Johannes moet vooraf voorberei om dramaties te lees soos vir ‘n groot skare buite. Met die preekriglyn word aangesluit by Johannes die Doper se rol as wegbereider, en nagedink oor die volle inhoud van die heil wat God bring. Ons fokus dieper op die inhoud van Johannes die Doper se prediking. Ons stap eerstens deur die teks, en daarna dink ons na oor die betekenis daarvan vir ons. Die erns en dringendheid van ‘n besluit om bekering word beklemtoon. Die byl wat reeds teen die wortels van die boom lê, die feit dat die boom uitgekap gaan word asook die verbranding in die vuur, dien juis om te waarsku dat die oordeel aan die kom is. Dit is as ‘t ware op hande. Daar is nie eintlik baie tyd oor om ‘n keuse te maak nie. Baie mense besef nie dat ons in die laaste dae lewe nie. Baie mense steur hulle nie baie aan die feit dat die wederkoms naby is nie. Ander sake geniet maklik ons onmiddellike aandag.

Daarom moet ons dringend aandag gee aan die wegdraai van ons verkeerde lewe en seker maak ons besluit vandag om die geloof in Jesus te aanvaar. Dit is vandag ook versoeningsdag. Ons dink aan ‘n diep verdeelde samelewing waar sommige se verwagtinge bots met ander se vrees. Ons word uitgedaag om na te dink oor ons eie lewensverhaal in die lig van Johannes se prediking. Wat sou Johannes vir ons sê as ons hom in die woestyn gaan besoek het? Hoe sou hy ons lewensstyl en ons ideale aangespreek het? Ons vier ook Adventstyd. Ons sien vooruit na die viering van die koms van die Kersbaba. Ons vier God wat mens geword het en ons kom genees het. Johannes leer ons dat diegene wat die genade vier nie daardeur onaangeraak mag bly nie. Die genade verander ons, bekeer ons, laat ons genadige lewens lei, lewens wat pas by God se bedoeling ons ons.

Share