Vierde Sondag in Advent – 23 Desember 2018 – Lukas 1:39-45,(46-55)

In vers 43 maak Elisabet ’n aangrypende uitspraak as sy die ongebore Jesus reeds “haar Here” noem. In vergelyking met ons, wat werk met “geloof as kennis en vertroue”, en die mense van haar tyd, wat werk met “sien is glo”, is Elisabet eintlik ’n uitsondering. Die vraag wat amper outomaties by ons opkom is: Hoe kry sy dit reg? Vers 41 gee die antwoord: “sy is met die Heilige Gees vervul”. Om aan kinders iets daarvan te verduidelik, gebruik die voorbeeld van ’n doedelsak. Dalk kan jy een iewers leen of iemand kry wat dit kan bespeel. Die doedelsak is nie op sy eie iets wat kan werk nie, maar as iemand van buite af lug kan inblaas, is die potensiaal daar dat daar klanke kan uitkom.

Die preekriglyn werk met die tema van blydskap wat dikwels in Lukas se evangelie herhaal word. Daarom word dit dikwels ‘n “happy Gospel” genoem. Dit gebruik meer as enige ander boek in die Nuwe Testament woorde waarvan die wortel verband hou met blydskap. Dit gaan in ons teks om drie persone se blydskap, naamlik: die van Elisabet, die van die kind in haar moederskoot (Johannes) en die van Maria. Die belangrikste van die blydskap is egter die bron daarvan, naamlik God se wonderwerkende ingrype in hulle lewe.

Share