Vierde Sondag ná Epifanie – 3 Februarie 2019 – Psalm 71:1-6

Bou vooraf ‘n fort van komberse en laat die kinders saam met jou in die fort sit terwyl julle gesels. Of, as jy nie kans sien vir die fort nie, vra wie van hulle soms kombers forte in hul huise bou, hoe die forte lyk, hoe hulle dit bou. Verduidelik dat die skrywer van die Psalm bang was. Daarom bid hy dat God vir hom ‘n plek sal wees waar hy veilig voel, soos ‘n rots waaragter hy kan wegkruip. Gesels oor nog plekke waar ‘n mens veilig voel, bv in jou ma se arms. Wys almal op die manier waarop die skrywer van die Psalm skuif: eers vra hy God om vir hom ‘n veilige plek te wees, dan begin hy bely dat God vir hom ‘n veilige plek is. Ons kan ook op die manier vir God vra om vir ons ‘n veilige plek te wees – en vir God dankie sê en vertrou, omdat hy vir ons daardie veilige plek is. Dit is ‘n goeie inleiding tot die prediking.

Wanneer mens hierdie woorde hoor, kom die situasie van so baie mense wat skreeu en dors na reg, geregtigheid en bevryding by mens op. Ons land se misdaadlandskap van fisieke geweld, plaasmoorde, korrupsie, finansiële uitbuiting, huisinbraak, gesinsgeweld, transito rooftogte en voertuigkapings versterk ons gebede en geroep om reg en regverdiging. Hierdie gebed roep tot God dat God sal red en uitkoms sal bied. Dit soek troos in God se reg en geregtigheid. Hierdie Psalm roep egter nie net na God nie, maar vind ook rus in God. Die primêre oproep van Psalm 71 is om die gemeente tot bidders op te roep, wat soos die digter vooruitskouend beloof en roem dat hulle God sal loof en prys omdat hulle glo en oortuig is Hy sal redding bring. Met musiekinstrumente moet ons voortydig die wonders wat sal kom nou al besing! Nou reeds die nuwe dagbreek, die troos en vreugde, die nuwe toekoms hoopvol vier! Want dit gaan verseker kom. Ons moet net biddend wag. En dit sal kom as seën, as geskenk. Dit waarborg dié Here wat ‘n pad in die see gemaak het. Hy gáán iets nuuts vir jou skep. Hy gaan jou verras.

Share