Home » Preke 2019 » Johannes 20:1-18 – Paasfees – 21 April 2019

Johannes 20:1-18 – Paasfees – 21 April 2019

Vertel die storie van Jesus se opstanding dramaties! Kinders kan deelneem deur die gebeure op te voer soos wat jy dit lees. Jy kan ook die pragtige video van die Jesus Storybook Bible se vertelling van Johannes 20. Skakel ingesluit. Dit is altyd ook ‘n goeie idee om die Paasfees-gebruike te verduidelik. Die preekriglyn begin met die aanhaling van Hesychius van Jerusalem: “Hidden first in a womb of flesh, he sanctified human birth by his own birth. Hidden afterward in the womb of the earth, he gave life to the dead by his resurrection (Paashomilie 5-6). Op Paassondag móét ons dus die opstandingsverhaal lees en verkondig. Die omkeermoment van die Jesusverhaal het immers aangebreek: die diepte, verlatenheid en stilte van die dood is oorwin. Die kruisiging en sterwe van Jesus is nie die laaste hoofstuk van sy verhaal op aarde nie.

Daar is wel ‘n weggerolde klip, ‘n leë graf en verskynings aan mense as bewys van lewe na die dood. Op Paassondag trek ons ons feesklere aan en vier saam met gelowiges oor die wêreld heen dat ons Here Jesus leef. Ons vier dat Jesus se oorwinning oor die dood vir ons die lewe op ‘n radikaal nuwe manier moontlik maak; in die hede, in die toekoms, asook selfs na ons eie einde hier op aarde. Op Paassondag onthou ons dat lyding en swaarkry, verontmensliking, rou, siekte, eensaamheid, verlange, wanhoop, sonde en die dood, ons tot in ewigheid nie sal kan afsny van God se liefde en sorg vir ons nie. Ons onthou dat die donkerste dieptes van dit wat ons lewe noem – dit wat soms soos hel kan voel – nooit die oorhand kan kry oor die genade en die werklikheid van Jesus se heerskappy nie; van hemel op aarde en hemel naas aarde.

Share