Home » Preke 2019 » Handelinge 9:36-43 – Vierde Sondag van Paastyd – 12 Mei 2019

Handelinge 9:36-43 – Vierde Sondag van Paastyd – 12 Mei 2019

Ons lees in die Bybel hoe die Here omgegee het vir mense, ook vir mense wat dalk in ons oë nie so belangrik is nie. Daarom is mense wat Jesus se liefde verstaan, en self liefde betoon ook mooi. Tabita was so ’n mooi vrou. Sy was nie belangrik nie. Maar Tabita was mooi, want sy het die mense rondom haar gehelp. Weduwees, wat niemand gehad het om hulle te versorg nie, het klere by Tabita gekry. Sy was altyd besig om goed te doen. Jy kan ook Carolyn C Brown se kindertyd gebruik – skakel ingesluit – waar op Dorkas gefokus word as ‘n voorbeeld van ‘n Paasfeesmens. Die preekriglyn sluit hierby aan en fokus op Dorkas se lewe as die verhaal van ‘n enkele vrou wat verantwoordelikheid in die Christelike gemeenskap aanvaar het totdat sy ‘n ma vir baie geword het. Sy het haar lewe gewy aan mense in nood.

En hoe die Here Dorkas, ‘n eenvoudige naaldwerkster, ‘n vrou, een van die vroulike dissipels in die Nuwe Testament, as die werktuig in God se hand vir herlewing in Joppe, ‘n hawestad aan die Middellandse See, gebruik het. Die opwekking van Dorkas het ‘n dubbele effek gehad. Eerstens het die wonderwerk die roubeklaers oombliklik getroos en met verwondering gevul. Die tweede gevolg was die verspreiding van die evangelie. Regdeur Joppe het die boodskap opgeklink dat Dorkas weer lewe, terwyl baie mense tot geloof in die Here gekom het. Ons is vandag te dikwels behep met die groot stories en die groot getalle, groot syfers en groot geld. Selfs in die kerk is ons geneig om die lewe en die sorg van God te soek en te sien in die groot dinge. Hier sien ons hoe ook die klein dingetjies van die alledaagse, die klein mense en die eenvoudige by die Here gereken word.

Share