Home » Preke 2019 » Handelinge 11:1-18 – Vyfde Sondag van Paastyd – 19 Mei 2019

Handelinge 11:1-18 – Vyfde Sondag van Paastyd – 19 Mei 2019

Daar is oulike videos van Handelinge 10 wat jy kan gebruik, aangesien Handelinge 11 tot ‘n groot mate ‘n oorvertelling van die gebeure in Handelinge 10 is. Jy kan ook die YouVersion Bybel App vir Kinders aflaai en die storie van Kornelius se bekering op jou tablet saam met die kinders lees. Gesels dan oor die verskillende goed wat mense eet en nie eet nie. Jy kan ook gesels oor verskillende kulture en die verskillende dinge wat hulle eet. Dan kan jy verduidelik dat daar reëls was wat gesê het Petrus mag nie sekere goed eet nie, maar dat God daardie goed gebruik het om vir Petrus te sê dat hy lief is vir alle mense. Die preekriglyn begin met die verassings wat God ons telkens gee.

Net sodra ons dink ons het God se kerk uitgesorteer, ons weet waaroor dit gaan, verras God ons weer. Petrus was oortuig hy weet hoe God werk, en wie God se mense is, toe verras God hom. Deur gesigte en die besoek van mense, en deur sy ervaring van die Heilige Gees wat op heidene uitgestort word, word Petrus hartgrondig verras en leer hy God se genade nuut ken. Dit leer ons dat God nie binne ons grense ingeperk word nie. God wil voortdurend mense bereik van wie ons dink dat hulle dit nie waardig is nie. Dit daag voortdurend ons definisies oor die identiteit van die kerk uit.

Share