Home » Preke 2019 » Lukas 24:44-53 – Hemelvaart – 30 Mei 2019

Lukas 24:44-53 – Hemelvaart – 30 Mei 2019

Gebruik die YouVersion Bybel App vir Kinders (in Afrikaans beskikbaar) om die verhaal vir kinders te vertel.  Jy kan óf skermgrepe neem van die verskillende prente en dit in die powerpoint sit, óf vertel die storie met ‘n tablet en laat die kinders interaktief deelneem. Vir die preekriglyn kan jy aansluit by die rolprent ET van Stephen Spielberg, wat oud en jonk se hartsnare geraak het. ET staan vir “the extra terrestial”. In die rolprent maak ET vriende met Elliot, ‘n tienjarige seuntjie. Daar ontwikkel ‘n nou band tussen hulle – soveel so dat wat met die een gebeur, ook deur die ander aangevoel word. Hierdie rolprent beeld iets uit van ‘n ervaring van verlies omdat iemand moet weggaan. Daar is intense emosies. Weggaan gaan inderdaad dikwels met pynlike emosies gepaard, veral as die persoon wat vertrek, iemand is met wie jy ‘n besondere verhouding het. Dit bring nie net ‘n ervaring van verlies nie, maar dikwels ook ‘n ervaring van onsekerheid. Dit is die konteks van die oorgangsituasie waarvan Lukas 24 vertel. Die dissipels het met Christus saamgeloop en hulle hoop op Hom geplaas. Na die kruisiging is hulle ontnugter. Te midde van die gerugte van die opstanding is hulle bang en onseker. Met sy verskyning aan hulle stel Jesus hulle egter gerus. “Moenie bang wees nie. Vrede vir julle.”  Hierin word iets van die styl waarmee Jesus met mense se menslikheid omgaan sigbaar.

Share